Laeveldse plaasmeisie Zimri het groot musiekdrome

Die 22-jarige Laeveldse sangeres, wat haarself met ’n glimlag as ’n “plain Jane” beskryf, het die naweek die eerste prys in die OppiDam Musiekfees se talentkompetisie gewen.

Laeveldse plaasmeisie Zimri het groot musiekdrome
Zimri Leuvennink. Foto's verskaf: Cobus Leuvennink.
Vir Zimri Leuvennink is musiek nie net iets wat sy doen nie. Dit is deel van haar daaglikse lewe, haar grootwordjare, haar familie en uiteindelik ook die pad waarop sy haar toekoms wil bou.

Die 22-jarige Laeveldse sangeres, wat haarself met ’n glimlag as ’n "plain Jane” beskryf, het die afgelope naweek die eerste prys in die OppiDam Musiekfees se talentkompetisie gewen. Dit was ’n groot verrassing vir die jong sangeres, maar terselfdertyd ’n belangrike tree vorentoe in ’n musiekloopbaan wat haar, ondanks haar jong ouderdom, reeds na verskeie groot verhoë geneem het.

Zimri het haar kinderjare op die familieplaas net buite Malelane deurgebring. Dit was jare van kaalvoet grootword, rowwe speel en rondjaag saam met haar sussie en nefies, en volgens haar is dit juis daardie plaaslewe wat ’n groot deel gevorm het van die mens wat sy vandag is. Sy het haar laerskooljare in Malelane voltooi en daarna haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Nelspruit deurgebring, waar sy ook in die koshuis gebly het.

Musiek was egter van kleins af ’n belangrike deel van haar lewe.

Haar musiektalent kom van haar pa, Cobus, se kant van die familie. Musiek loop diep in dié familie se are, met familielede wat verskeie instrumente speel en haar grootouers wat musiekorkesdirigente was. As klein dogtertjie het Zimri enige plek in ’n verhoog omskep. Sy het gedurig wysies geloop en neurie, soms haar eie woorde bygevoeg en dan met haar eie, nogal unieke komposisies vorendag gekom. Haar ma, Aldine, onthou hoe Zimri hardop in die huis geloop en sing het, heeltemal verlore in haar eie wêreld. Die droom om eendag professioneel te sing, was dus vroeg reeds daar.

By die Leuvennink-huis is musiek steeds ’n gesinsaangeleentheid. Wanneer die familie bymekaar kom, is ’n spontane sing-along nooit ver nie. Haar ouer sussie Lanika neem plek agter die klavier in, pa Cobus gryp die kitaar, Zimri sing en haar ma sit rustig en geniet die musiek.
Zimri, ma Aldine, sus Lanika en pa Cobus.

Gedurende haar skooljare het Zimri ook jaarliks aan Eisteddfod-kompetisies deelgeneem. Daar het sy nie net gesing nie, maar ook aan voordrag, redenaars, dans en kuns deelgeneem. Die ervaring het haar geleer om voor mense op te tree en die onvermydelike senuwees onder beheer te kry. Haar ouers het glo ’n interessante manier gehad om haar met verhoogangs te help: sy moes haar verbeel dat die hele gehoor poedelnakend voor haar sit. Dit het klaarblyklik gewerk.

By Hoërskool Nelspruit het sy ook aan die jaarlikse musiekrevue deelgeneem, ’n ervaring wat sy vandag steeds as van haar kosbaarste skoolherinneringe beskou.
Hoewel Zimri tans biokinetika aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer en in November haar graad voltooi, het musiek nooit langs die pad verdwyn nie. Sy het elke geleentheid aangegryp om te sing en op te tree. Haar eerste ernstige tree in die musiekbedryf het egter onverwags gekom.
Volg Zimri op Facebook | Instagram | YouTube.

Tydens die Covid-19-inperking in 2020 het sy per toeval met die bekende Suid-Afrikaanse musikant Deon van der Merwe van Touch of Class in aanraking gekom. Hy het haar aan die professionele musiekbedryf bekendgestel en haar die geleentheid gebied om haar eerste album op te neem. In 2023 het dié droom ’n werklikheid geword met die vrystelling van haar eerste solo-album, Beperk. Die album bevat 12 Afrikaanse en Engelse snitte, waaronder drie oorspronklike liedjies en nege covers van onder andere Demi Lovato, Olly Murs, Miley Cyrus, ABBA en Mica.

Daarna het meer oorspronklike musiek gevolg, waaronder Stormblom en Alles vir My. Een van haar oorspronklike liedjies, Tree vir Tree, het besonder goed gevaar op Radio Laeveld se Top 20 Treffers en het twee agtereenvolgende weke die nommer-een-posisie beklee.

Zimri se musiekloopbaan het haar ook reeds na groot verhoë geneem.

In 2022 is sy deur Radio Laeveld as een van die streek se gewildste plaaslike sangeresse aangewys en het sy die geleentheid gekry om as voorprogram vir Mango Groove by die Penryn-fees in Nelspruit op te tree. Dit was haar eerste groot optrede en ’n belangrike mylpaal. In 2023 het sy by die Wegbreekfees by Mbombela-stadion opgetree voor sowat 3 000 feesgangers, waar sy die verhoog met verskeie bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars gedeel het. Meer onlangs het sy ook by Innibos, die Onderbergfees in Malelane en Aardklop in Potchefstroom opgetree.

Volg Zimri op Facebook | Instagram | YouTube.

Tussen optredes en haar studies deur het Zimri ook onderhoude met Radio Laeveld, RSG FM en vele ander plaaslike radiostasies gevoer en haar musiek aan ’n al hoe groter gehoor bekendgestel. Haar repertoire is wyd, hoewel countrymusiek ’n spesiale plek in haar hart het. As sy haar musiek in een sin moet beskryf, is haar antwoord eenvoudig: “Eg, met hart en karakter.”

Die wen van OppiDam se talentkompetisie het nou 'n nuwe deur oopgemaak. Zimri se pa het die talentkompetisie onder haar aandag gebring. Die eerste prys, wat haar die geleentheid bied om ’n nuwe liedjie op te neem en ’n musiekvideo te laat vervaardig, was ’n groot aansporing om in te skryf. Sy het egter glad nie verwag om te wen nie. “Die ander deelnemers het baie talent gehad,” het sy aan De Kaap Echo vertel. “Dit was vir my ’n verrassing en ’n geweldige voorreg om te wen.”

Die kompetisie was inderdaad straf, met vyf finaliste wat uiteindelik om die eerste plek meegeding het. Vir Zimri beteken die prys veel meer as net ’n trofee. Dit gee haar die geleentheid om verder aan haar eie musiek te werk en ’n nuwe liedjie professioneel te laat vervaardig. “Ek sien baie uit daarna om ’n nuwe liedjie te skryf, dit te laat opneem en ’n video te laat maak,” het sy gesê. Dit is ook duidelik dat die belangrikste deel van die OppiDam-ervaring vir haar nie eens die wen was nie. Sy beskryf die hele dag as ’n fees, met wonderlike mense, ondersteuning en ’n aangename gehoor.

Links is Zimri met haar pryspakket ná haar oorwinning in die OppiDam-talentkompetisie.

Musiek is, soos sy dit stel, haar “daaglikse kos”. Daar gaan volgens haar nie ’n dag verby wat sy nie na musiek luister nie. Dit plaas haar in ’n goeie bui en is net so deel van haar lewe soos wat dit in haar familiehuis was as kind.

Nou lê haar volgende hoofstuk voor. Zimri voltooi in November haar biokinetikagraad en beoog om van volgende jaar af haar vlerke met groot entoesiasme te sprei in beide haar loopbane as biokinetikus en professionele sangeres. Intussen droom sy daarvan om haar musiek nog wyer te neem, nasionaal en uiteindelik internasionaal. Haar missie is eenvoudig: “Do what you love, and love what you do.”

Vir ’n jong vrou wat haar eerste liedjies as klein dogtertjie rondom haar ouerhuis gesing het, op ’n Laeveldse plaas grootgeword het, en alreeds op van Suid-Afrika se groter verhoë gestaan het, lyk dit asof Zimri Leuvennink nog maar net die eerste paar note van haar musiekreis gesing het.

Haar verhaal is nog lank nie klaar nie!

Zoid Spawn and the one-life rule
I went to church to watch Karen Zoid sing French under Super Mario graphics and left with an existential crisis. Not quite what I had on the evening’s bingo card, but was I disappointed? Absolutely not.
What it means to belong to a Karoo town
There is no agreed period after which a newcomer becomes local. Ten years are enough in one town and barely an introduction in another. Some people are absorbed quickly because they participate without trying to dominate. Others are still outsiders after decades of residence.
Vier mans in Wes-Kaap in hegtenis geneem
Twee afsonderlike polisieaksies in die Wes-Kaap het vier inhegtenisnemings opgelewer. Die verdagtes sluit twee mans in wat in verband met ’n poging tot moord gesoek is.
Five towns in South Africa you’ll never forget
Forget rushing between South Africa’s major cities. These smaller towns offer history, mountains, forests, art and character.