Ná die derde OppiDam Musiekfees by Vygeboomdam het die organiseerders teruggekyk op die fees se groei en hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat tot die sukses daarvan bygedra het.
Toe die derde OppiDam Musiekfees Saterdagaand tot ’n einde gekom het, was daar vir Jaco Landsberg en Pieter Rischmüller meer om op terug te kyk as twee dae se musiek by Vygeboomdam.
Wat drie jaar gelede as ’n idee vir ’n musiekfees by die dam begin het, het intussen ’n eie karakter gekry, ’n gehoor opgebou en ’n span agter die skerms gevestig wat volgens die organiseerders met elke jaar sterker geword het.
Die volbespreekte karavaan- en tentstaanplekke het reeds voor die naweek gewys dat baie feesgangers nie net vir ’n paar uur wou inloer nie. Hulle het gekom om te bly. Op die terrein het stalletjies, kos, aktiwiteite en die musiekprogram oor twee dae ’n fees gevorm wat vanjaar ook ruimte gemaak het vir iets nuuts: plaaslike talent op die verhoog.


Die eerste OppiDam Talentkompetisie het tien deelnemers gelok, waarvan Rhinus Lotz, Nicolene Breytenbach, Zimri Leuvennink, Juan Bester en Zaiden die finaal gehaal het. Vir beoordelaars Lanie Rischmüller, Pollie Theunissen en Lynette Spencer was daar min ruimte tussen die uiteindelike wenners. Zimri het die kompetisie gewen, met Rhinus net een punt agter haar. Nicolene het derde geëindig, weer net een punt agter Rhinus. Die uitslag het gewys hoe na aan mekaar die top drie werklik was.

Vrydag se potjiekoskompetisie het intussen sy eie gees van mededinging na die terrein gebring. Riekie Trollip en Jacqueline Tsotsotso van Spectank het uiteindelik met die louere weggestap.


Vir Jaco, eienaar van OppiDam en een van die organiseerders, het die groei van die fees egter nie net op die verhoog of voor die verhoog gelê nie. “Ons span het net beter en beter geword,” het hy ná afloop van die fees gesê. Hy het Lyzelle van Wyk uitgesonder vir haar werk met die stalletjies en was veral tevrede met die kombinasie en verskeidenheid wat vanjaar aangebied is. Volgens hom was die terugvoer van die deelnemers positief, met stalletjiehouers wat aangedui het dat hulle graag weer sou wou terugkeer. Agter ’n ander toonbank het Lesley gesorg dat die kroeg volgens Jaco geloop het “soos stroop”. Jaco het erken dat hy tussen al die verantwoordelikhede deur darem self ook tyd vir ’n paar R&R’s gekry het.

Pieter Rischmüller se werk by OppiDam het lank voor die eerste kunstenaar op die verhoog gestap het, begin. As mede-organiseerder was hy deur die jaar intensief betrokke by die beplanning en voorbereiding van die Musiekfees, van die program en kunstenaars tot die talle praktiese besonderhede wat agter die skerms aandag moes kry. Teen die tyd dat die fees aangebreek het, het sy werk egter allermins opgehou.
Oor die twee dae het hy tussen sy verantwoordelikhede as organiseerder ook as seremoniemeester opgetree en saam met sy band die verhoog betree. Jaco het gesê die terugvoer oor Pieter se aanbieding was besonder goed en het sy werk agter die mikrofoon as van internasionale standaard beskryf.
Vir Pieter was die derde OppiDam Musiekfees dus nie bloot nóg ’n optrede nie. Dit was die eindproduk van maande se beplanning en werk aan ’n fees waarby hy van die eerste jaar af betrokke was. Hy en Jaco het drie jaar gelede saam besluit dat Vygeboomdam en sy omgewing die regte plek vir ’n musiekfees was, en sedertdien het Pieter ’n integrale rol in die ontwikkeling daarvan gespeel. “Die fees het elke jaar ’n bietjie gegroei,” het hy gesê.
Pieter het tong-in-die-kies bygevoeg dat OppiDam dalk eendag selfs sy eie weergawe van “Afrikaans is Groot” kon aanbied.


Die werk om mense by Vygeboomdam te kry, het natuurlik lank voor die eerste tent opgeslaan of die eerste noot gespeel is, begin. Jaco het iOlogue Media bedank vir die bemarking en dekking van die fees deur die jaar, sowel op OppiDam Musiekfees se eie platforms en deur De Kaap Echo. Volgens hom het die gesprek rondom OppiDam uiteindelik veel verder as die onderskeie platforms gestrek. In die aanloop tot die naweek het hy gereeld mense teëgekom wat reeds van die fees geweet en daaroor gepraat het.
“Die deeglikheid en aandag aan detail in Anchen se werk deur die jaar, saam met Lynette se passie as gemeenskapsjoernalis en haar onophoudelike verslaggewing oor die twee feesdae, het net weer gewys dat selfs ’n span van twee groot dinge kan laat gebeur,” het hy gesê.
Geen fees kom egter net met ’n verhoog en ’n program bymekaar nie. Van klank, mediese dienste, ACS Spartan sekuriteit tot drankverskaffers, stalletjiehouers, diensverskaffers en die ondernemings wat pryse en ander ondersteuning beskikbaar gestel het, het elkeen ’n rol gespeel om die OppiDam Musiekfees moontlik te maak.
Die klank deur Rocksolid Sound was uit die boonste gestoeltes en het ’n belangrike deel gevorm van die gehalte van die optredes oor die twee dae. Die organiseerders het ook vir Jan Oberholzer bedank vir sy bydrae aan die mediese ondersteuning gedurende die fees. Sy span van Pricemed Emergency Services was slaggereed vir enige onvoorsiene beserings.

Die derde fees was daarmee agter die rug, met ’n span wat ná drie jaar beter geweet het wat gewerk het, ’n gehoor wat teruggekeer het en ’n fees wat nie meer net ’n idee langs die dam was nie.
OppiDam het sy eie ritme gekry!
Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor elke onderneming en individu wat vanjaar bygedra het. Hulle het ook 'n besondere woord van dank aan Jacaranda FM gerig vir hul onderteuning en beklemtoon dat hul betrokkenheid 'n belangrike bydrae tot die bemarking en bekendstelling van die fees gelewer het.
Wil jy betrokke raak by die OppiDam Musiekfees 2027? Stuur gerus ’n e-pos aan admin@oppidam.co.za met 2027 Musiekfees in die onderwerpreël.
Die betrokke borge se skakels na hul webwerwe:
Feesborge










Talentkompetisieborge

Potjiekoskompetisieborge


Mediavennote











Comments ()