Eendag het ek nog gedink ek is jonk genoeg om berge te versit, en die volgende oggend het ek besef my liggaam het blykbaar sy eie vakbond gestig.

Met die dat ek nou ook nie meer in die fleur van my lewe is nie, ontvang ek gereeld daai ‘tong-in-die-kies’ stukkies van vriende in ‘n epos of op ‘n WhatsApp wat my laat glimlag, en soms die trane laat rol soos ek lag. Veral as jy in prentjies dink soos ek. "Oud word is nie vir sissies nie," hoor mens dikwels rondom braaivleisvure of oor ‘n koppie koffie.
Met apologie aan die skrywer van die onlangse stukkie wysheid wat ek van ‘n ‘jonger’ vriendin ontvang het.
Ek weet nie presies wanneer dit gebeur het nie. Ek vermoed daar was nie eens 'n amptelike aankondiging nie. Geen trompetgeskal of enige lint wat geknip is nie. Eendag het ek nog gedink ek is jonk genoeg om berge te versit, en die volgende oggend het ek besef my liggaam het blykbaar sy eie vakbond gestig.
Dis nie noodwendig 'n slegte plek om te wees nie. Die alternatief is immers heelwat minder aantreklik, maar dit verg beslis 'n aanpassing wanneer jy agterkom jou liggaam is nie meer 'n lojale spanmaat nie. Sy is nou daardie moeilike kollega wat elke voorstel met 'n sug begroet, met my brein natuurlik die optimis van die groep.
"Kom ons laai die pakkies uit die motor uit," sal my brein voorstel waarop die knieë antwoord: "Ons sal eers daaroor vergadering hou." Sou sy voorstel om bietjie in die tuin te gaan werfskaf, stel die rug onmiddelik voor dat ons eerder op die bank gaan sit en YouTube-video's kyk van hoe ander mense hul tuine omskep in ‘n lushof. Dis asof elke liggaamsdeel deesdae sy eie persoonlikheid ontwikkel het!
Die knieë hou aan kla oor jare se oorlading en herinner my gereeld dat trappe eintlik 'n uitvinding van sadiste moes wees. My rug onthou elke goedkoop matras waarop ek ooit geslaap het en voel dit is nou die ideale tyd om die rekening te vereffen. My nek besluit soms sommer oornag dat sy nie meer links wil draai nie. Geen verduideliking nie. Dis net skielik die nuwe beleid.
Dan praat ek nie eers van my oë nie! Ek is oortuig restaurante het saamgesweer om spyskaarte in mikroskopiese druk te laat druk. Die kelner glimlag vriendelik en vra of alles in orde is, terwyl ek die glas soutpot nader trek in die hoop dat dit dalk as vergrootglas kan dien.
My blaas het alle begrip van tyd verloor. Sy glo blykbaar die hele nag is een lang oefening in gereelde inspeksierondtes. Teen sonsopkoms ken ek elke los plank in die gang uit my kop.
Klink julle ook soos ek as julle opstaan? Is daar ook sulke geluide wat onwillekeurig uitglip? Niemand leer jou dit nie. Dit gebeur net. Dit begin met ‘n steun as ek skuinsdraai (van sommer skielik regop sit is daar lankal nie meer sprake nie). Dan ‘n sagte "ooeee" gevolg deur ‘n "ai" of "eina" of 'n verdere diep sug wat klink asof jy pas Kilimandjaro uitgeklim het. Dis verseker nie pyn nie, net my liggaam wat my in kennis stel dat sy weer suksesvol aangeskakel is.
Selfs eenvoudige besluite vereis deesdae strategiese beplanning. As iets op die vloer val, buk ek nie summier om dit op te tel nie. Ek staar eers daarna en wonder dan of ek dit regtig nou nodig het. As ek dan tog buk om dit op te tel gaan my vingers in ‘n spasma in en weier om dit raak te vat en moet ek ‘n paar keer die poging aanwend. Dis dan wanneer ek dit sommer onder die bed of bank inskop.
Slaap het ook sy glans verloor. Daar was 'n tyd toe ek op 'n bank, of sommer op die grond kon slaap en vars wakker word. Vandag benodig ek 'n spesiale kussing, die regte matras en waarskynlik die planetêre belyning van Jupiter. Dan word ek nog wakker met 'n arm wat besluit het sy neem die dag af.
Ten spyte van die lyf wat nie meer wil doen wat ek dink sy kan doen nie is daar tog iets bevrydends aan hierdie fase van die lewe. Jy begin besef perfeksie is oorskat. Jy lag makliker vir jouself. Jy jaag minder agter onbelangrike dinge aan. Jy verstaan dat elke grys haar en elke kraakgeluid eintlik 'n storie vertel van 'n lewe wat voluit geleef is.
Ja, my liggaam stuur deesdae gemengde boodskappe. Ek vermoed selfs al my ledemate het 'n WhatsApp-groep gestig waar hulle daagliks bespreek hoe hulle my planne gaan saboteur en ek is verseker nie meer die admin van daai groep nie, maar ek is steeds hier.
Ek kan nog lag. Ek kan nog reis. Ek kan nog skryf.
As hierdie inderdaad die laaste innings is, dan gaan ek dit stadig aanpak, elke bal geniet... maar verseker net eers mooi dink voordat ek enigiets optel wat op die vloer beland het.
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.






Comments ()