Wanneer ’n skool sy meisies vra om swart aan te trek, is dit meer as net ’n bewusmakingsdag. Dit is ’n standpunt teen die geweld wat steeds te veel vroue se lewens verwoes.

Wanneer ’n skool vir sy leerlinge sê: Trek Vrydag swart aan, is dit maklik om dit bloot as nog ’n bewusmakingsdag op die kalender te sien. Maar die boodskap van Northlands Girls’ High School is veel groter as ’n kleurkode.
Die skool vra sy meisies om op 18 September swart te dra ter ondersteuning van vroue en kinders wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld geword het. Dit is ’n eenvoudige gebaar, maar agter daardie swart klere lê ’n boodskap wat ons as samelewing lankal moes begin skree: “Genoeg is genoeg”. Ek staan heelhartig in solidariteit saam met hierdie skool. Dis dalk iets wat die hele land moet doen!
Geweld teen vroue is vir my ’n absolute nee!
Daar behoort geen grys gebied, geen verskoning en geen “maar wat het sy gedoen?” te wees nie. Geen vrou vra om geslaan, verneder, gedreig, verkrag of vermoor te word nie. Tog lees ons dit week ná week in die nuus. ’n Vrou wat deur haar lewensmaat aangerand word. ’n Vrou wat ’n beskermingsbevel moet kry teen iemand wat haar behoort lief te hê. ’n Vrou wat ’n saak by die polisie aanhandig maak en daarna steeds moet wonder of sy veilig is wanneer die man teen wie sy beskerming gevra het, weer op straat is.
Dit is vir my moeilik om myself in te dink waardeur ’n vrou in so ’n verhouding gaan. Die vrees, die onsekerheid, die moontlike ekonomiese afhanklikheid, die kinders wat betrokke is en die ongelooflike moed wat nodig is om uiteindelik te sê: "Ek kan nie meer so leef nie". Die stelsel behoort haar beskerm. Nie net op papier nie, maar regtig beskerm.
Suid-Afrika het wette, beskermingsbevele, gespesialiseerde polisie-eenhede, howe en ondersteuningsdienste wat spesifiek ingestel is om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help. Daar is ook werklike vordering: SAPS het tussen April 2024 en Maart 2025 meer as 22 000 verdagtes in sake wat deur sy Family Violence, Child Protection and Sexual Offences-eenhede hanteer is, aangemeld en 2 941 skuldigbevindings verkry.
Die vraag wat ek wil vra is of die stelsel vinnig en konsekwent genoeg werk voordat nog ’n vrou se naam op ’n plakkaat van slagoffers verskyn, want ’n beskermingsbevel is belangrik, maar selfs dit kan nie alleen tussen ’n vrou en ’n gewelddadige aanvaller staan nie. ’n Saak wat aangemeld is, is belangrik, maar dit help min as die slagoffer intussen steeds in gevaar verkeer. ’n Vonnis is ‘n besliste noodsaaklikheid, maar vir die vrou wat reeds dood is, kom geregtigheid nooit betyds nie.
Volgens die regering is daar wel pogings om die stelsel te versterk. Die Departement van Justisie het onder meer aangedui dat 78% van beskermingsbevele binne 24 uur bedien word en dat duisende sake van seksuele misdrywe tot skuldigbevindings gelei het. Dit is belangrik om te erken dat geregtigheid in sommige gevalle tog wel seëvier.
Aan die anderkant van die pennie is dit egter ‘n ander storie. Die daaglikse werklikheid vir baie Suid-Afrikaner vroue is ’n verhaal wat ons nie kan ignoreer nie. Die afgelope week was daar weer berigte van vroue wie se liggame gevind is nadat hulle vermis geraak het. Die jongste ontdekking van die liggame van verskeie vroue in die Ekurhuleni-gebied het die land se reeds bestaande vrees en woede oor femicide verder aangeblaas.
Hoeveel meer moet ons lees van sulke gevalle? Hoeveel families moet nog wag vir antwoorde wat hul nooit kry nie? Hoeveel moeders, dogters, susters en vriendinne moet nog deel word van ’n statistiek voordat ons almal besluit dat dit nie meer aanvaarbaar is nie? Dit is waarom ek die meisies van Northlands Girls’ High School ondersteun. Nie omdat swart klere ’n probleem kan oplos nie, want ons weet dit kan nie, maar omdat bewustheid begin wanneer mense bereid is om hul stem te gebruik.
Miskien is dit presies wat ons nodig het, meer mense wat praat en bereid is om saam te staan. Dalk het ons meer mans nodig wat ook sê dat geweld teen vroue nie aanvaarbaar is nie. Meer mense in die gemeenskap wat nie stilbly wanneer hulle weet dat iemand mishandel word nie. Meer verantwoordbaarheid wanneer sake nie behoorlik hanteer word nie en ’n strafregstelsel wat slagoffers nie net op papier beskerm nie, maar hulle werklik veilig laat voel.
Hierdie is nie ’n vroueprobleem nie. Dit is ’n samelewingsprobleem en vir my is daar geen “maar” wanneer dit by geweld teen vroue kom nie. Swart op 18 September is dalk net klere. Maar laat ons hoop die boodskap daaragter is baie harder as die kleur. Ons sien julle, ons hoor julle en ons weier om geweld teen vroue as normaal te aanvaar.
Genoeg is genoeg!
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.








Comments ()