Erfenisdag is veel meer as ’n openbare vakansiedag en beslis meer as net ’n verskoning om ’n vuur aan te steek en vleis daarop te gooi.



Kom ons wees eerlik. Wanneer 24 September op die kalender verskyn, is daar waarskynlik nie baie Suid-Afrikaners wat eerste dink aan geskiedenis, kultuur, taal, tradisies of die bewaring van ons erfenis nie. Nee, die eerste vraag is waarskynlik: “Wie bring die vleis?” Erfenisdag het in Suid-Afrika, danksy jare se braaivleis, houtskool en sosiale media, ’n tweede naam gekry: Braaidag.
Daar is natuurlik niks verkeerd met ’n lekker braai nie. Suid-Afrikaners het ’n besondere talent om ’n vuur aan die gang te kry, ’n rooster vol vleis te pak en binne minute ’n groep mense wat mekaar skaars ken, soos familie te laat kuier. As dit nie deel van ons erfenis is nie, weet ek nie wat is nie.
Maar 24 September was nooit bedoel om bloot ’n nasionale verskoning te wees om wors of 'n lekker biefstuk te eet nie.
Die verhaal agter die dag is eintlik heelwat interessanter. Toe Suid-Afrika ná 1994 ’n nuwe openbare vakansiedagkalender gekry het, was daar ’n doelbewuste poging om ’n land met ’n uiters verdeelde geskiedenis nuwe nasionale dae te gee wat meer as een groep se verhaal sou weerspieël.
24 September was voorheen in KwaZulu-Natal bekend as Shaka’s Day, ter herinnering aan koning Shaka Zulu. Toe dit nie in die nuwe vakansiedagwetgewing ingesluit is nie, het die Inkatha Freedom Party beswaar gemaak. Die uiteindelike oplossing was ’n nasionale Erfenisdag wat nie net een persoon, een volk of een geskiedenis sou herdenk nie, maar Suid-Afrika se uiteenlopende kulturele erfenis.
Erfenis is nie net iets wat in ’n museum agter glas lê nie. Dit is die geboue in ons dorp. Die stories van mense wat voor ons hier gewoon het. Die tale wat ons praat en die tradisionele kos wat ons eet. Dis ook die musiek waarna ons luister en die plekke waar ons grootgeword het. Die tradisies wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Dit raak ook die sleg van ons geskiedenis, die sake waaroor ons soms eerder nie wil praat nie. Jy kan nie ’n land se erfenis kies soos jy items van ’n restaurant se spyskaart kies nie. Jy kan nie net die lekker goed vat en die res terugstuur kombuis toe nie.
Dalk is dit presies waar Erfenisdag vir ons belangrik raak. Barberton behoort eintlik ’n besonder goeie plek te wees om hierdie dag te vier. Ons hoef nie ver te ry om letterlik oor geskiedenis te struikel nie. Hier is goudvelde, ou geboue, begraafplase, kerke, spoorweggeskiedenis, mynverhale en die Makhonjwa-berge. Ons strate en erfenisterreine vertel stories van mense wat van ver gekom het met groot drome, van mense wat hier gebly het, van families wat hier wortel geskiet het en van mense wie se name vandag nog op ou grafstene en geboue voorkom.
Ons het ’n geskiedenis wat veel groter is as ’n goudklontjie in ’n museum. Tog is daar ’n gevaar dat Erfenisdag vir ons almal net nog een rooi blokkie op die kalender word. Dit beteken ‘n dag af, ‘n langnaweek wat gepaard gaan met ‘n braai.
Miskien moet ons vanjaar, voordat die eerste tjop op die rooster beland, net ’n oomblik vra: Wat is my erfenis? Nie noodwendig die groot nasionale vraag nie. Sommer die persoonlike een. Het jou ouma vir jou ‘n storie vertel wat jy nooit moet vergeet nie? Is daar dalk ‘n familieresep wat al drie geslagte lank bestaan? Watter ou gebou in jou dorp, taal, liedjie, of foto beteken iets vir jou en verbind jou aan mense wat lank voor jou daar was?
Miskien kan ons ook vra wat ons vir die volgende geslag gaan nalaat, want erfenis gaan nie net oor wat ons geërf het nie. Dit gaan ook oor wat ons bewaar. Dit is maklik om oor ons erfenis te praat wanneer dit mooi en gerieflik is. Dit is moeiliker wanneer dit ons herinner aan dinge wat ons eerder wil vergeet, maar ’n land wat sy geskiedenis probeer wegsteek, verloor uiteindelik ook ’n deel van sy identiteit.
So, ja, braai hierdie Erfenisdag. Maak die vuur, koop die vleis en nooi die bure. Sit om die tafel, lag en vertel stories. Dit is alles deel van die Suid-Afrikaanse manier van saamwees, maar terwyl iemand vra of die kole reg is, onthou dalk ook hoekom ons op 24 September ’n vakansiedag het.
As iemand vra dalk vra wat vier ons vandag, moenie net antwood Erfenisdag nie. Vertel vir hulle iets wat jou eie erfenis vertel. ’n Braai kan net ’n vuur, braaivleis en goeie geselskap wees, maar erfenis is die stories wat ons rondom daardie vuur vertel.
Terloops... wie bring nou eintlik die vleis?








Comments ()