60-jarige superster Linda skitter met goue vertonings by SA’s

Dié toegewyde onderwyseres van Laerskool Barberton Primary het die afgelope naweek weer opslae gemaak tydens die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe wat in Germiston by die Herman Immelman stadium gehou is.

60-jarige superster Linda skitter met goue vertonings by SA’s
Linda de Bruyn.

Barberton se eie “atletiektannie”, Linda de Bruyn (60), hou steeds die vaandel hoog en wys geen teken van stadiger word nie. Dié toegewyde onderwyseres van Laerskool Barberton Primary het die afgelope naweek weer opslae gemaak tydens die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe wat in Germiston by die Herman Immelman stadium gehou is.

Sy het nie minder nie as twee goue en drie brons medaljes losgehardloop.

De Kaap Echo het verlede jaar reeds berig oor De Bruyn se merkwaardige pad in atletiek, van haar vroeë dae op die langpad tot haar indrukwekkende oorgang na die baan. Sedertdien het sy net voortgebou op haar sukses en haar plek as een van die streek se mees inspirerende atlete verder verstewig.

Om vir die SA’s te kwalifiseer, moes Linda eers aan twee strawwe byeenkomste deelneem. Op 21 Maart het sy aan die Sentraal Gauteng-atletiekbyeenkoms in Germiston deelgeneem, waar sy goud in die 1 500m verower het en silwer in die 2 000m-hindernis.

Slegs ’n week later het sy weer haar staal gewys tydens die Gauteng-Noord-atletiekkampioenskappe op Pilditch, waar sy ’n silwer medalje in die 2 000m-hindernis en brons in beide die 1 500m en 5 000m-wedlope verwerf het.

Hierdie prestasies het haar vir die derde agtereenvolgende jaar ’n plek by die SA’s besorg en dit is juis daar waar sy weer bewys het dat ouderdom slegs ’n getal is.

Sy het goud gewen in beide die 80m- en 300m-hekkies, ’n besonderse prestasie aangesien dit die eerste keer was wat sy hekkies gehardloop het. Om die prestasie nog meer merkwaardig te maak, het sy boonop die Suid-Afrikaanse rekord in die 300m-hekkies verbeter.

Sy het ook brons medaljes in die 800m en 1 500m bygevoeg om haar indrukwekkende medalje-oes af te rond.

Met die baanatletiekseisoen nou agter die rug, verskuif Linda haar fokus na die landloopseisoen. Sy beplan om oor die volgende paar maande aan 13 byeenkomste deel te neem, met haar oog stewig op die Suid Afrikaanse landloop-kampioenskappe wat op 5 September in Pretoria plaasvind. Skaars sal dié agter die rug wees of die baanatletiek spring weer weg aan die einde van September met die eerste byeenkoms wat in Bloemfontein gehou word. Dit laat mens wonder waar sy tyd kry om onderwyseres te wees?

Linda se deursettingsvermoë, dissipline en liefde vir atletiek, of enige hardloopsport, bly ’n inspirasie vir jonk en oud.