𝘽𝙡𝙖𝙨𝙩 𝙛𝙧𝙤𝙢 𝙩𝙝𝙚 𝙥𝙖𝙨𝙩 laat Barbertonners skater
BHS het met die musiekblyspel, 'Blast from the Past' die gehoor op ’n vrolike reis deur musiek, film en bekende ikone uit die verlede geneem.


Barberton Hoërskool (BHS) het die gehoor tydens hul 2026-musiekproduksie op ’n vrolike reis deur musiek, rolprentkarakters en bekende ikone uit die verlede geneem.


Met die musiekblyspel, Blast from the Past het die skool se verhoog behoorlik lewe gekry toe karakters soos Charlie Chaplin, Elvis Presley, Marilyn Monroe en Michael Jackson hul verskyning gemaak het. Daar was ook kleurvolle verwysings na bekende en geliefde rolprente soos Grease, The Mask en The Addams Family, wat vir menige in die gehoor ’n aangename herinneringsreis terug in tyd was.
Die produksie het egter nie bloot op nostalgie gesteun nie. In die middel van die verhaal was Lily, vertolk deur Kathryn Steyn, wie se reis die produksie sy emosionele hart gegee het. Deur musiek, vriendskap en die leiding van karakters uit die verlede het sy uiteindelik geleer om in haarself te glo en die moed te hê om anders te wees. Die boodskap het dalk ernstig geklink, maar die aand self was allesbehalwe ernstig.


Die gehoor het hoorbaar die pret geniet, met bekende musiek, verrassende karakters en energieke optredes wat die atmosfeer deurgaans lig en vrolik gehou het. Vir ouers, grootouers en vriende was daar talle oomblikke van herkenning, terwyl jonger gehoorlede die ikoniese figure en musiek op ’n heel nuwe manier kon ervaar.
Dit was juis hierdie mengsel van generasies wat die produksie besonders gemaak het. Terwyl die ouer geslag met Elvis, Marilyn Monroe of Michael Jackson grootgeword het, het die jonger geslag die karakters vir die eerste keer op BHS se verhoog leer ken.
Teen die einde het Lily se transformasie die boodskap van die produksie mooi saamgevat. Sy het nie net haar selfvertroue gevind nie, maar ook geleer om die lewe te geniet en haarself te wees.


Die resultaat was ’n produksie vol energie, musiek, dans en vermaak, met die talent van BHS se leerders duidelik op die voorgrond. Dit was ’n aand wat nie net ’n reis deur die verlede gebied het nie, maar ook vir elkeen in die gehoor ’n kans gegee het om saam te lag, saam te sing en eenvoudig die oomblik te geniet.
’n Spesiale woord van waardering is uitgespreek teenoor mev. Maryke Gerber en haar span, die kreatiewe kragte agter die produksie. Hulle het daarin geslaag om ’n wêreld van bekende karakters en musiek op die verhoog te bring en terselfdertyd ’n betekenisvolle boodskap oor individualiteit en selfvertroue aan jong mense oor te dra.
Met die musiekblyspel het BHS weereens gewys dat ’n goeie storie, gekoppel aan talent en ’n gesonde skeut pret ’n mens sommer vir ’n aand kan laat vergeet van die koue buite.








Comments ()