Daar is dié wat aanhou oefen… en dan is daar die res van ons

Sommige mense hardloop marathons op sestig. Ander van ons raak moeg as ons die bed opmaak. Ek was nog nooit eintlik sportief nie, daar was meer kultuur in my lyf...

Send us a WhatsApp and find out how. Subscribe to De Kaap Echo for free.

Daar is sekere mense wat my eenvoudig verstom. Mense soos Linda de Bruyn. Ek ken haar al jare, van haar Jock fietrydae, en elke keer wanneer ek weer hoor sy het nóg ‘n wedloop voltooi, nóg ‘n medalje gewen of nóg ‘n fietsroete aangepak, wonder ek dieselfde ding: Hoe doen sy dit?

Veral nou dat baie van ons so stilletjies die “bejaarde jare” begin binneskoffel...

Ek meen, op sestig plus behoort ‘n mens mos eintlik jou knieë te spaar, vroeg te gaan slaap en gereeld oor die weer en jou “kwale” te kla. Nie kilometers te hardloop asof jy vir die Olimpiese Spele oefen nie, maar nee, daar is mense wat eenvoudig net aanhou, en dan is daar die res van ons...

Ek was nog nooit eintlik sportief nie, daar was meer kultuur in my lyf. Ek het wel hokkie gespeel op hoërskool, hoofsaaklik omdat meeste van my vriendinne gespeel het en daar was ‘n lekker spangees. Ek was ook die doelwagter omdat niemand anders dit wou wees nie. Al moet ek dit self sê, ek was nogal ‘n goeie doelwagter, maar dit het nie hardloop vereis nie.

Yip, daai liefde vir draf, of fietsry was my nooit beskore nie. Dit was nie eers 'n oorweging in my lewe nie. Inteendeel, dit het my heeltemal oorgeslaan. Ek glo eerlikwaar dit sit nie in my gene nie. Ek kyk na mense wat soggens vyfuur opstaan om te gaan oefen. Gits daardie tyd van die oggend is tog gemaak vir slaap!

Ek hét ook probeer gym. Regtig!

Vir ‘n kort rukkie was ek nogal toegewyd. Daar was sportklere, tekkies en ‘n waterbottel wat baie professioneel gelyk het. Ek het selfs nie omgegee om vroeg op te staan nie, alhoewel dit moontlik iets te doen gehad het met die baie aantreklike jong man wat by die gym gewerk het.

Ongelukkig hou mooi jong mans alleen nie ‘n mens lank gemotiveerd nie... en toe probeer ek die tuis-gymroete. Ek koop ‘n spinning-fiets en later selfs ‘n treadmill. Aanvanklik het dit uitstekend gegaan en ek was gemotiveerd. Vir omtrent ‘n maand het ek gevoel soos iemand wat dalk nog haar lewe in orde gaan kry én fiks gaan word.

Toe breek die skoolvakansie aan… en die onvermydelike gebeur.

Die spinning fiets word ‘n hanger vir klere. Die treadmill word ‘n meubelstuk. En albei verander stadig maar seker in wit olifante wat net stof opgaar en in die pad staan. Hulle het lankal nuwe eienaars gekry.

Vandag, baie jare later, het my verhouding met oefening nie juis verbeter nie. Ek verstaan die voordele daarvan. Ek bewonder mense wat dit doen. Ek skryf en lees graag oor hul prestasies, maar self kry ek nog steeds geen vreugde daarin om vrywillig te “sweet” nie. Ek het darem vir 'n hele paar jaar pilates gedoen. Gelukkig laat dit laat jou nie sweet nie.

En tog, mense soos Linda inspireer my.

Verseker nie om self ‘n marathon te gaan hardloop nie, laat ons nou nie heeltemal simpel raak nie, maar eerder omdat hulle bewys dat ouderdom nie noodwendig beteken jy moet stadiger leef nie.

Daar is iets besonders aan mense wat aanhou oefen, aanhou probeer en aanhou leef met entoesiasme lank nadat die meeste van ons al gemaklik op die bank ingemessel geraak het. Miskien is dit die geheim. Nie noodwendig die hardloop of die fietsry nie, maar die feit dat hulle eenvoudig nie ophou leef nie.

Ek sal waarskynlik nooit een van daardie mense wees wat vir plesier teen ‘n berg uit draf nie, maar ek sal hulle altyd bewonder. Van ‘n gemaklike afstand af. Met ‘n koppie koffie in die hand, en moontlik ‘n koekie ook. Ek verkies wiele onder my bas, en in besonder my 4x4 Jimny wiele waar ek genoeg adrenaline ervaar as ons ‘n tawwe roete of hindernis aanpak.

Daarmee is dit “sjloesh”, oor en uit. Ek heb my sprak gesprook.

𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.


The loneliness and beauty of rural life in the modern world
In places like the Eastern Cape and the Free State, thousands of people live far from major centres. Young people often leave small towns in search of opportunity while older generations stay behind and watch the same streets grow quieter each year.
Why buyers still choose Melkbosstrand despite Koeberg
Ultimately, the continued strength of the local property market suggests that for most buyers, Melkbosstrand is defined less by its famous neighbour and more by the lifestyle it offers.
The best time to visit Botswana
Botswana offers two distinct safari seasons shaped by water, wildlife and weather patterns.