Wanneer selfs die wildtuin nie meer veilig voel nie

Vir baie Laevelders is die Kruger méér as net ’n park, dit is deel van ons. Wat gebeur egter wanneer selfs hierdie wêreldbekende toevlugsoord geraak word deur die land se groeiende misdaadkrisis?

Daar is sekere plekke in Suid-Afrika wat vir ons méér is as net ‘n bestemmings op ’n kaart is. Plekke wat diep in ons harte leef en wat ons weer en weer besoek. Die Kruger Nasionale Park is so ’n plek. Vir baie van ons in die Laeveld, en ek sluit myself daarby in, is dit nie net ’n toeriste-aantreklikheid nie. Dit is deel van ons lewe, ons identiteit, ons trots. Dit is waar ek gaan asemhaal wanneer die wêreld te veel raak. Waar ek weer stilte vind tussen die geroep van ’n visarend, die gekraak van droë takke onder olifantpote, en die mooi van ‘n sonsondergang oor die veld.

En nou sit ons met die skokkende nuus van ’n moordvoorval wat wêreldwyd opslae maak.

Dit is hartseer, maar meer as enigiets anders los dit my met ‘n wrang smaak in my mond en stoot die woede in my keel op en wil ek gal braak! Hoe het ons land op hierdie punt gekom? Hoe kan een van die wêreld se bekendste wildtuine nie meer die plek wees waar mens, sonder om oor jou skouer te kyk, besoek kan aflê nie? Misdaad, geweld en wetteloosheid syfer al hoe dieper in plekke in wat eens as veilig beskou is? Is daar ‘n plek in ons land waar ons nog kán veilig voel?

Dit is die eerste misdaadvoorval van sy soort sedert die ontstaan van die park honderd jaar gelede, maar dit verander nie die skokgolf wat dit deur die land stuur nie. Dit verander nie die skade aan Suid-Afrika se beeld nie. Internasionale toeriste lees nie altyd die fyn detail nie, hulle sien net nog ’n gewelddadige opskrif uit Suid-Afrika. Kan mens hul kwalik neem dat hul huiwerig is om ons land te besoek?

Is toerisme nie een van die min sektore wat steeds hoop bied vir ons ekonomie nie?

Ek glo baie van De Kaap Echo se lesers voel soos ek, “MOEG”. Moeg vir die eindelose stories van moord, korrupsie, diefstal, kabeldiefstal, plaasaanvalle, stropery en misdaad. Moeg daarvoor dat misdadigers al hoe meer waaghalsig raak. Dit voel soms asof daar geen vrees meer vir die gereg bestaan nie. Asof wetteloosheid stadig maar seker besig is om die elke dag se norm te word. Het dit so deel van ons daaglikse bestaan geword, dat ons maar net skouer optrek en voortgaan?

Ons sien hoe infrastruktuur verval en hoe gemeenskappe agteruitgaan. Hoe mense net eenvoudig moed verloor. Ons jong mense verlaat ons land om in die vreemde ‘n lewe vir hulle en hul kinders te bou. Nou word selfs ons natuurlike erfenis, die plekke wat ons nog trots gemaak het, geraak deur dieselfde donker wolk van wetteloosheid wat oor die land hang.

Dit breek my hart.

Ek was nog altyd baie lief vir die wildtuin. Ek is dankbaar dat ek die voorreg het om so naby aan die wildtuin te woon. Dat ek gereeld deur daardie hekke kan ry en vir ’n paar dae kan vergeet van alles daar buite wat so negatief is. Ten spyte van alles bly ons land ongelooflik mooi. Die natuur gee steeds vir ons iets wat geen regering en geen misdadiger ooit kan wegneem nie.

Ongelukkig bly die mooiste plekke nie ongeskonde as ’n land stadig begin verval nie. Die groter vraag is: wanneer sê ons genoeg is genoeg? Hoeveel waarskuwingstekens is daar nog nodig? Hoeveel internasionale verleenthede? Hoeveel families moet nog geliefdes verloor, voordat daar daadwerklik teen misdaad opgetree word? Gewone Suid-Afrikaners kan nie aanhou leef in ’n toestand van voortdurende woede, vrees en teleurstelling nie. Dalk is dit tyd dat die doodstraf teruggebring word. 'n Oog vir 'n oog.....

Ek weet ek hap na wind, maar ons verdien beter.

Die Krugerwildtuin behoort steeds ’n plek van rus en ontsnapping uit die alledaagse gejaag te wees. ’n Plek waar mense van regoor die wêreld, veilig die natuur kan kom bewonder en beleef. Nie net nog ’n plek wat deel word van die wêreld se gesprek oor geweld en verval nie.

Miskien is dit juis waarom hierdie voorval my so diep tref, want dit voel asof iets wat ek liefhet, iets waarop ek trots is, nou ook begin seerkry onder die gewig van alles wat verkeerd loop in my land. Dit was twee onskuldige mense wat wreed vermoor is. Waarvoor? ‘n Voertuig!!!

Vir my as ‘n stoere, patriotiese Afrikaner en Suid-Afrikaner, is hierdie tyd waarin ons leef, een waarmee ek al hoe moeiliker identifiseer.

𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.