Sewe instrumente en nege medaljes vir musiek
Marlese van Veen is ’n musikant met nege internasionale medaljes, sewe instrumente en ’n besonderse talent om musiek op gehoor te speel.
As jy dink ’n mens moet jare se formele musiekopleiding agter die rug hê om internasionale medaljes in te palm, het Marlese van Veen nuus vir jou. Hierdie 58-jarige musikant kan sewe instrumente bespeel, het nege medaljes op ’n internasionale verhoog in Amerika verower en kan haar eie begeleiding doen sonder om op ’n rekenaar staat te maak.
Daar is net een klein probleempie: sy kan nie bladmusiek lees nie!
“If you can hum it, I can play it,” is hoe Marlese haar besondere musikale vermoë opsom. Sy kan darem sien of die kolletjies op ’n bladmusiekblad op of af beweeg, maar presies watter note dit is, bly vir haar ’n raaisel. Gelukkig het sy geleer om met haar ore eerder as met die kolletjies te werk, en dit het haar tot op ’n wêreldverhoog geneem.
Marlese is in Witbank gebore en het ook daar haar skoolopleiding voltooi. In Januarie 1999 het sy na Marloth Park verhuis en dieselfde jaar by Buscor in Malelane begin werk. Sy het ook in Malelane en Honeybird op Low’s Creek gebly voordat sy in 2009 na Nelspruit verhuis het.

Musiek was egter lank voor die Laeveld deel van haar lewe. Sy kom uit ’n besonder musikale familie waarin haar ouers albei musiek gespeel en gesing het. Marlese is deel van vyf kinders, drie seuns en twee dogters, en almal speel een of meer instrumente. Hulle eie kinders maak ook deesdae saam musiek. Wanneer dié familie bymekaarkom, is dit dus nie ‘n stil kuier nie en dit neem nie lank voordat iemand ’n instrument nader trek en daar musiek gemaak word nie.
Marlese speel klavier, keyboard, kitaar, baskitaar, ukulele, mondfluitjie en dromme. Geen formele musiekopleiding het haar egter op dié pad gelei nie. Sy het haar vaardighede op gehoor ontwikkel, ’n vermoë wat haar in staat stel om by ander musikante aan te sluit en die musiek intuïtief te volg. Haar eerste musikale ervarings sluit deelname aan skoolkompetisies en talentaande in, maar een van haar grootste hoogtepunte het in 2021 plaasgevind. Sy het aan die South African Championship of Performing Arts (SACOPA) deelgeneem, waar sy Mpumalanga-kleure verwerf het. In Oktober daardie jaar het sy by die nasionale kompetisie Suid-Afrikaanse kleure behaal.

Die volgende stap was ’n geleentheid waarvan baie musikante net kan droom: deelname aan die World Championship of Performing Arts (WCOPA) in Los Angeles, Amerika. Haar reis daarheen het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie. Visumgoedkeuring het ’n jaar geneem, wat beteken het dat sy eers in Julie 2023, as deel van ’n Suid-Afrikaanse span van 43 deelnemers, die geleentheid gekry het om internasionaal deel te neem. Sy het teruggekeer met sewe silwermedaljes en twee bronsmedaljes. Haar mondfluitjie-item het boonop goud met net een punt misgeloop.
Marlese is ook deel van die lof- en aanbiddingspan by haar kerk. Sy glo haar talent is ’n gawe van haar Hemelse Vader en gebruik dit graag om mense deur musiek ontvanklik te maak vir Sy Woord en boodskap. Vir haar is musiek ook ’n manier om dankie te sê vir die gawe wat sy ontvang het.

Haar liefde vir musiek het haar deur die jare met verskeie musikante in die Laeveld in aanraking gebring. Sy het Rhinus Lotz en Jacqueline Brits (Jax), in 2019 tydens ’n open-mic-aand by Urban House ontmoet. Die vriendskappe wat daaruit gegroei het, het ook tot musikale samewerking gelei. Marlese en Rhinus tree al byna drie jaar saam as die duo Sean-Alice op. Sy het ook al verskeie kere saam met Jax opgetree en het vroeër vanjaar by die groep Samesyn aangesluit, waar sy baskitaar speel en agtergrondsang en harmonieë behartig. Die groep bestaan verder uit Brandon Turvey, Rudi de Klerk en Colin Woodward. Nog ’n hoogtepunt was haar optrede saam met Bianca Swift, oftewel Bia, en Rosie van Rose Media Studio op die Mopanie-verhoog tydens vanjaar se Innibos-fees, waar Marlese die perkussie behartig het.

Vir iemand wat haarself eerder as ‘n instrumentalis as ’n sanger beskou, is harmonieë haar sterk punt. Sommige van haar musiekvriende beskryf haar as die “queen of harmonies”. Sy sing wel gereeld by karaoke-aande en natuurlik in die kerk, maar verkies om ander sangers se stemme met haar agtergrondsang aan te vul en te laat uitstaan.

Dit verklaar ook haar besluit om by die OppiDam Musiekfees hoofsaaklik haar instrumentale vaardighede ten toon te stel. Alhoewel sy nie gesing het nie, het sy beslis iets besonders na die verhoog gebring. Haar talent is ook deur De Kaap Echo erken, met 'n spesiale prys wat sy by die fees ontvang het.
Marlese is ook trots daarop dat sy haar eie agtergrondbegeleiding kan saamstel deur die instrumente self te bespeel. In ’n tyd waarin kunsmatige intelligensie al hoe meer take oorneem, verkies sy om haar eie agtergrondmusiek te maak. ’n Rekenaar hoef nie die werk vir haar te doen nie.
Sy is ook ’n groot ondersteuner van lewendige musiek in Mbombela. Werner Botha van Music Experience en Spoonful Café bied gereeld musiekvertonings aan, en Marlese probeer dit sover moontlik bywoon. Sy waardeer die werk wat hy doen om ’n platform vir lewendige musiek in die stad te skep.
Een van haar besonderse herinneringe vanjaar was die geleentheid om saam met Black Cat Bones op te tree, waar sy en André ’n duet met hul mondfluitjies uitgevoer het. Sy het ook al op die verhoog saam met lede van Voodoo Kudu, Soul Taxi, Accoustics, Dark White Band en Treasure gespeel en gesing. Die platform wat by dié musiekgeleenthede geskep word, bring musikante uit verskillende kulture en agtergronde bymekaar. Hulle kan saam op die verhoog klim, selfs al het hulle nog nooit voorheen saam gespeel nie. Vir Marlese, wat op gehoor speel, is dit ’n ideale geleentheid. Sy kan luister, voel waarheen die musiek beweeg en daarby aansluit sonder dat iemand eers ’n bladmusiekbundel hoef oop te slaan.
Tydens ’n MSC-bootreis het Marlese vriende gemaak met een van die orkeste wat in die skip se sitkamers opgetree het. Hulle het haar genooi om saam met hulle Pianoman te speel, met haar kitaar en mondfluitjie. Wanneer die orkes ’n ruskans geneem het, het sy agter die pragtige vleuelklavier ingespring. Dit het haar droom vir aftrede verder versterk. Marlese wil graag eendag op ’n skip musiek maak, daarvoor betaal word en terselfdertyd die wêreld sien. Vir haar klink dit na die ideale kombinasie: om geld te verdien uit iets waarvoor sy lief is, terwyl sy nuwe plekke ontdek.
Daar is wel een klein hekkie wat sy nog sal moet oorkom. Om dié droom te verwesenlik, sal sy waarskynlik moet leer om bladmusiek te lees. Gelukkig het sy nog ses jaar voor aftrede om dié uitdaging aan te pak.
Intussen hou Marlese aan speel, sing, harmoniseer en saamwerk met ander musikante. Of sy nou by ’n kerkdiens, ’n musiekfees, ’n plaaslike verhoog of op ’n skip agter ’n klavier sit, sy bring dieselfde liefde en spontaneïteit na die musiek. As sy eendag wel leer om bladmusiek te lees, sal dit sekerlik handig wees, maar tot dan weet sy reeds hoe om die belangrikste deel reg te kry: om te luister, die ritme te voel en musiek te maak.






Comments ()