’n Uitsonderlike musikale reis: "Pilgrim’s Progress" leef op die planke
Die musikale verhoogproduksie van John Bunyan se klassieke allegorie Pilgrim’s Progress het drie uitverkoopte vertonings opgelewer in Sabie.


Onder leiding van Kobus en Charlotte Hugo, oud inwoners van Barberton, het ’n klein gemeente in Sabie gewys dat geloof, spanwerk en deursettingsvermoë iets buitengewoons kan voortbring. Hulle het onlangs ’n musikale verhoogproduksie van John Bunyan se klassieke allegorie Pilgrim’s Progress aangebied en dit het drie uitverkoopte vertonings opgelewer in Sabie wat deur 540 mense bygewoon is. ‘n Enkele vertoning is ook by Christ Unlimited in Nelspruit gehou waar daar ongeveer 800 mense was.


Kobus het verduidelik dat die idee spruit uit sy ervaring by Church Unlimited Hazyview, waar hy en Charlotte vroeër ’n suksesvolle Alpha-kursus aangebied het. Hy het besef dat die kerk buite sy mure moet beweeg om werklik ’n impak te hê. “Die wêreld kom nie sommer kerk toe nie. Ons moet relevant wees en ’n boodskap bring wat mense nie onmiddellik afstoot nie. ‘n Musikale drama is ‘n definitiewe moontlikheid waarin die evangelie subtiel verweef is.”


Toe hulle in 2024 na Sabie oorgeplaas is, het hulle besluit om die projek voort te sit en ’n verhoogproduksie van Pilgrim’s Progress te skep. Dit is basies ‘n tydlose verhaal oor ’n pelgrim, Christian, wat sy swaar las by die kruis neergooi en dan ’n lewensreis vol aanmoediging én versoeking aanpak tot by die Celestial City.
Charlotte Hugo het die draaiboek geskryf en as regisseur opgetree. Saam met Barbara Steenkamp het sy die akteurs afgerig. Dit het ses maande se intensiewe voorbereiding geneem om die klassieke boek aan te pas na ’n twee-uur-lange produksie.
Die rolverdeling het bestaan uit 35 akteurs (32 uit Sabie, twee uit Witrivier en een uit Nelspruit), met nog sowat 10 ondersteuningspanlede. “Dit is ongelooflik dat byna die helfte van ’n gemeente van net 70 lede, vir ses maande lank twee keer per week geoefen het,” het Kobus vertel.

Die hoofrol van Christian is vertolk deur Rhulani Mkhatswa, ’n onderwyser by Hoërskool Sabie, wie se toewyding en talent die produksie op sy skouers gedra het. Cornel Lombard het as evangelis het met haar selfvertroue en stem die hele span verder geïnspireer.
Omdat dit ’n musikale produksie moes wees, het die regte musiek ’n deurslaggewende rol gespeel. Nege liedjies van Mitch Mitchell, ('n Barbertonner) is ingesluit, terwyl die res deur die gemeente se eie Praise and Worship-groep geskryf is. “Ons wou iets van uitnemendheid lewer omdat ons dit vir die Here doen,” het hy gesê. AVS het die beligting en projeksie hanteer om ’n professionele eindproduk te skep.
Die produksie het sowat R210 000 gekos, maar al die fondse is voorsien deur individue wat vrywillig bygedra het. Nie ’n sent is uit die kerk se begroting gebruik nie. “As iemand ons vooraf gesê het wat dit sou kos, sou ons waarskynlik nie begin het nie, maar die Here het elke behoefte voorsien,” het Kobus gesê.
Die resultate was verstommend: drie uitverkoopte vertonings, ’n staande applous in Nelspruit en talle mense wat besluit het om hul lewens weer in lyn te bring met God se Woord.
Hoewel daar geen verdere vertonings beplan word nie, slegs omdat die span gewone werkende mense is wat reeds ses maande van hul vrye tyd gegee het, is daar besluit om die storie lewendig te hou deur ‘n dokumentêr te skiet. “Miracle in Sabie - The Pilgrim Story” sal in November by Casterbridge-teater première. Die film dokumenteer elke stap van die reis en wys wat moontlik is wanneer ’n gemeente sê: “Here, gebruik ons.”
“Ons het altyd gesê: ons bring net ons vyf broodjies en twee vissies, die Here voed die menigte,” het Kobus afgesluit. “Ons het geleer dat jy God nie kan beperk nie. As Hy sê doen dit, moet jy net beskikbaar wees. Hy doen die res.”


Comments ()