‘n Jimny beteken vir sy eienaar net een ding: AVONTUUR!
Dit was nie net ‘n rit nie, dit was ’n avontuur met vriende wat almal Jimny entoesiaste is.

Daar is niks wat my batterye so laai as ‘n avontuurrit in my Suzuki Jimny nie. Soos meeste Barbertonners weet, ry ek al sedert 2008 ‘n Suzuki Jimny en met die aanskaf van my nuwe model Jimny in 2021 het ek ook by die Jimny 4x4 Laeveld-klub aangesluit. Ons het gereeld uitstappies na areas wat net deur 4x4 voertuie besoek kan word. Verlede naweek was weer een van ons avonture wat nog lank in ons geheue sal vassteek. Meeste van die foto’s is deur Letitia Entres en myself verskaf.
Saterdagoggend het 9 Jimnys uit Nelspruit vertrek en in Barberton het nog twee Jimnys hulle by die konvooi aangesluit. Waarnatoe sal julle vra? Ons eindbestemming was die Umfula Tented Camp teen die Swaziland grens.
Dit was nie net ‘n rit nie, dit was ’n avontuur met vriende wat almal Jimny entoesiaste is, gelaai met baie stof en hier en daar ‘n bietjie modder, baie ops en afs, en ‘n paar hindernisse vir die brawes.
Die eerste stop was op die Bulembupad by een van die uitkykpunte op die Geotrail in die Makhonjwaberge wat deel vorm van die UNESCO Heritage Site. Koffiebekers is uitgehaal en die effe warm winter vroegoggendsonnetjie is geniet. Eureka City het vaagweg in die verte gewink, die uitsig was asemrowend. Almal was opgewonde oor die rit wat voorlê.

Die teerpad wat net voor die Swaziland grens regs wegswenk, word vervang met ‘n baie stowwerige grondpad en van tyd tot tyd moet ons ook vir beeste en bokke, wat blykbaar die eerste reg het om op die pad te wees, stilhou.

Die byt van die vroegoggend koue syfer stadig uit ons ledemate uit met die winter sonnetjie wat saam ry. Sy strale verhelder elke foto en bring so ’n tikkie warmte tussen die koue skaduwees. Terwyl ons oppad is, trek ’n steil paadjie teen ’n bult Herman Entres se aandag. Natuurlik kan Herman, Johan Spies en die uwe nie die versoeking weerstaan om die bult te tem nie onder luide aanmoediging van die wat nie so waaghalsig wil wees nie.
Die bult is só steil dat die bagasie op Herman se Jimny van die dak afgly, maar die adrenalien en skaterlag maak dit alles die moeite werd. En bo-op? ‘n Uitsig wat ver strek, dit slaan behoorlik jou asem weg en laat my net weer besef hoe bevoorrreg ék is om te bly waar ek bly.


Daar is altyd één wat ‘the road less travelled’ moet aandurf en weereens het die Jimny nie teleurgestel nie. Video teen 2xspoed: Eric Lowther.
Die volgende stop was op die grens van die spookdorp Msauli waar die Deipgezetmyn was. Die konvooi trek in by die destydse gholfbaan. Hier word al lankal nie meer golf gespeel nie en net herinneringe bly oor tussen die bome en die gras wat nou hul eie koers loop tussen sementtrappies en die murasie van die klubhuis. Die verlate en gestroopte klubhuis vertel die storie van lank gelede toe gholfers hier vergader het. Hulle het van ver gekom om op dié betrokke gholfbaan te speel.



Daar word ook ‘n wyle gestop op ‘n brug wat oor die Komatirivier loop en die mooie landskap reg rondom ons, word op kamera vasgelê.


Die Jimnys bereik Umfula Tented Camp net betyds vir middagete. Ons stap op die dek van die kuierarea uit en word begroet deur ‘n asemrowende uitsig oor die Komatirivier. Vir ‘n oomblik is daar stilte terwyl die natuurskoon om ons ingeneem word.
Vic Fourie en sy span is reg met 'n koue een in die hand en hul pizzas en hamburgers laat jou vergeet van enige diëte. Ons loot sommer daar op die dek en Body Cure se prys gaan aan Poppie Odendaal. Geluk, Poppie! Geniet daai bederf-geskenk.



Na middagete word daar afgepak, gemaklike klere aangetrek en maak die konvooi reg vir die sundowner trip. Teen 14:00 spring die Jimnys weer in die pad en koers terug na Msauli, met ‘n draai Swaziland se kant toe vir nog 5.8 km. Ons soek daai perfekte uitsig vir ‘n sonsondergang.
Die roete is gesaai met lang grasse wat waai oor die pad, en die Jimny-vlaggies wapper soos vlakvark sterte in die lang gras. Party plekke ry ons deur rooi poeierstof en al wat jy sien is rooi remligte wat voor jou dans in die stof.
Op ‘n gelykte word daar gestop en Vic en Jon haal ‘n ronde tafel uit en dek dit soos net hulle kan met ys, glase, en yskoue Amarula. Jorge Cordeiro se drone word in die lug opgestuur en vang daai goue oomblik vas. Ons kyk hoe die son stadig agter die hoë berge inskuif en geniet die stilte net voor die nagkoue kom.



Dan terug kamp toe. Die dag word behoorlike afgesluit. Die Jimnys is vol stof, maar die harte vol vreugde. Sonsondergang, geselskap en daai rustige gevoel wat jy net kry ná ’n dag vol avontuur.
Die samekoms die aand by Umfula was een vir die boeke. Rugby op die groot skerm, warm kole wat knetter, vleis op die rooster en vriende om die vuur wat stories deel.
Avonture, kos en kuier. Dis mos hoe die Jimny brigade dit doen en hoe ‘n perfekte dag afgesluit word!

Na ete geniet ons die koue aandlandskap sonder stadsliggies. Net swart berge, wit wolke en n helder maan. Hier kry jy weer rus vir jou siel en laai jy jou batterye vir die gejaag wat weer na die naweek jou dag sal oorneem.
‘n Groot dankie gaan uit aan die mense wat bygedra het om ons dag so lekker te maak: Nagkantoor op Kaapsehoop, BP Automotive, MacNut Creations, Kellaprince Properties, Body Cure by Crossings, Boshoff Inc, Tyre Worx, Suzuki 4x4 Lowveld en Umfula Tented Camp. En natuurlik aan Herman en Letitia Entres wat weereens aan die roer van sake gestaan het. Ons sien uit na die volgende kuier. Dit klink na ‘n uittog na Kaapschehoop, maar daaroor vertel ek ‘n volgende keer.
Een vir een kom die Jimnys te voorskyn uit die stofwolk wat hul opskop.

Comments ()