‘n Bittersoet Moedersdag

Vir my was Moedersdag nog altyd ‘n besonder spesiale naweek, want my ma het gewoonlik ook verjaar.

‘n Bittersoet Moedersdag
Photo: T Leish.

Die naweek is Moedersdag regoor ons land gevier. Ontbyt in die bed, spesiale voorbereide middagete of 'n uiteet by haar gunsteling restaurant, blomme, sjokolade, drukkies, telefoonoproepe en spesiale boodskappe het weereens ma’s laat weet hoe geliefd en gewaardeerd hulle is. Of ten minste hoop ek so.

Vir my was Moedersdag nog altyd ‘n besonder spesiale naweek, want my ma het ook verjaar. Daarom dra dié dag vir my nou ‘n bittersagte mengsel van mooi herinneringe en stille verlange, want wanneer jou ma nie meer hier is nie, verander Moedersdag onherroeplik.

Mens besef eers regtig hoe kosbaar jou ma was wanneer jy nie meer haar stem oor die telefoon hoor nie. Wanneer daar nie meer daardie bekende “Hallo my kind” is nie. Wanneer jy nie meer sommer net by haar kan gaan sit, ‘n koppie koffie drink, of haar ‘n stywe druk gee nie. Dis eers in haar afwesigheid wat ‘n mens die grootheid van haar liefde ten volle verstaan.

Daarom wil ek vandag sê: koester jou ma. Moenie wag vir ‘n spesiale dag om vir haar te sê jy is lief vir haar nie. Moenie dink daar sal altyd nog tyd wees vir daardie kuier, daardie oproep of daardie lekker saam lag nie. Die lewe verander vinnig, en soms kry ons nie die kans om die dinge te sê wat in ons harte is nie.

Ek is self al vir baie jare ‘n ma, en ook ‘n trotse ouma. My seuns het elkeen op hul eie unieke manier hul liefde en waardering gewys hierdie Moedersdag, en soos elke ma wonder ek soms stilweg: Het ek genoeg gedoen? Het ek genoeg liefde gegee? Het ek hulle veilig, belangrik en geliefd laat voel? Was my ondersteuning genoeg? Ek hoop so, want daar is geen handleiding vir moederskap nie. Ma’s probeer maar elke dag net hul beste met die kennis, krag en liefde wat hulle het.

Wat my hart egter swaar maak, is wanneer ek hoor van kinders wat nie meer met hul ouers praat nie. Families wat deur jare se seerkry, trots of misverstande uitmekaar gedryf is. Kinders wat kwaad bly vir hul ma’s oor foute uit die verlede. Ja, ouers maak foute. Hulle is immers ook net mense, maar die liefde van ‘n ma bly standvastig en onherroeplik.

Maak reg, terwyl daar nog tyd is. Spyt kom altyd te laat.

Bel vandag. Stuur daardie boodskap. Gaan drink koffie saam haar en eet 'n groot stuk koek. Vergewe! Een een of ander dag wens jy dalk vir net nog vyf minute saam met haar. Net nog een gesprek. Net nog een drukkie. Nog net een saam kuier.

Ek is dankbaar dat my ma die laaste drie jaar van haar lewe naby my was. Dat ons mekaar elke week gesien het, dat sy naweke by my kon spandeer voordat die dementia haar in haar eie wêreld laat onttrek het. Tog het sy altyd geglimlag as sy my sien. ‘n Ma weet immers wie haar kinders is, al wil die brein jou nie meer erken nie.

Na alles, bly sy immers jou ma.

Mag elke ma daar buite weet dat sy geliefd is, waardeer word en dat haar klein en groot opofferings raakgesien word. Vir elkeen wat hierdie Moedersdag met ‘n seer hart beleef omdat hul ma nie meer hier is nie, mag die mooi herinneringe altyd sterker wees as die verlange.

𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.