Erfenisdag bring Barberton se families bymekaar

Erfenisdag het vanjaar ’n gesinsfees in Barberton geword toe die CMR en Interkerklike Jeug Aksie (IKJa!) se verskillende gemeentes hande gevat het.

Erfenisdag bring Barberton se families bymekaar
Van die IKJa! en CMR lede wat betrokke was by Erfenisdag se reëlings is Kittie Coetzee, Pieter Human, Santi Venter, Joshua September, Ds Thys en Karin Lourens, Pieter en Celia Joubert. Foto's: Santi Venter.
Volg OppiDam se Facebook-blad vir meer.
I'm just a click away: Email | WhatsApp | Property Profile.

Erfenisdag het vanjaar ’n besondere betekenis gekry toe die Christelike Maatskaplike Raad, Barberton (CMR), in samewerking met die Interkerklike Jeug Aksie (IKJa!) van verskeie Barberton-gemeentes, ’n gesinsoggend op die NG Kerk se terrein aangebied het.

CMR Barberton is geleë op die NG Kerk-terrein, Crownstraat 28, Barberton. Kontak hulle by 078 773 6424 / 081 544 7460 of cmrbarberton@cmroos.co.za.

Dit was ’n oggend waar families kon saamkuier, kinders kon speel en die gemeenskap se verskillende kerke, organisasies en inwoners hulle hande om dieselfde doel kon slaan, om tyd saam met Barberton se kinders en gesinne deur te bring.

Natuurlik, as Barbertonners bymekaarkom, moet daar ’n bietjie gesonde kompetisie wees. Kerke het mekaar die stryd aangesê in ’n entoesiastiese toutrekkompetisie, terwyl die jonger geslag gewys het dat ’n mens nie noodwendig ’n duur sporttoerustingstel nodig het om pret te hê nie. Tradisionele boeresport het vir groot vermaak gesorg, met kinders en volwassenes wat met mening aan die verskillende aktiwiteite deelgeneem het.

Daar is ook ‘n troeteldierkompetisie gehou waar inwoners met hul hondekinders kon spog. Daar was pryse vir onder meer die mees amusante, mees spoggerige, mees windmakerige en koddigste troeteldier, met beoordelaars wat behoorlik hul hande vol gehad het.

Ds Thys Lourens met Bella wat die prys vir die Mees Windmakerigste woef gewen het, en regs is Wanja Joubert met Klara wat die prys gewen het vir die Mees Sjarmantste woef.
Rina Kruger met Rusty en Pieter Kruger met Louwtjie het die prys gewen vir die Mees Amusantste paartjie en regs is Kittie Coetzee met Rossini, ‘n American Crested marmot, wat die prys gewen het vir die Mees Koddigste ‘woef’.

Verder kon almal rondsnuffel by die wit olifant-tafel in die kerksaal wat onder die skenkings gekreun het. Die Vroue Landbou-unie (VLU) het hul handwerk, breiwerk, hekelwerk, naaldwerk en ander stokperdjies uitgestal. Geen familiedag kan plaasvind sonder kostalletjies nie en daar was ‘n verskeidenheid lekkernye aangebied, met die geur van die Baptistegemeente se worsbroodjies en die NG Kerk se pannekoek wat deur die oggendlug getrek het. IKJa! het intussen gesorg dat dors kele met koeldrank en water nat gehou word.

Die pannekoek bakkers en baksters van die NG Gemeente.

Vir die CMR was die dag ook ’n geleentheid om sy Caring & Sharing-projek aan families bekend te stel en praktiese ondersteuning aan die gemeenskap te bied. Volgens Santie Venter, voorsitter van IKJa! en jeugkoördineerder, was die gesinsoggend die eerste tree van samewerking tussen die verskillende gemeentes se jeug onder die vaandel van IKJa!.

“Vandag is ’n geskiedkundige dag vir Barberton en ons jeug,” het sy gesê. “Deur die Vader se almagtige en alomteenwoordige liefde wat ons dring, trek ons letterlik ’n streep en gryp ons kinders terug op ons Vader se skoot, tree vir tree in Sy genade.”

Die oggend is met lofprysingsmusiek gevul en families is genooi om saam te kuier, te lag en deel te wees van iets wat groter is as enige enkele gemeente. Die boodskap van die dag was eenvoudig: ’n gemeenskap se kinders behoort aan die hele gemeenskap, en wanneer mense bereid is om saam te werk, kan kerkmure vir ’n rukkie minder belangrik word as die kinders wat almal deel.

Die Rope Warriors, Gateway se damesspan van Hislight het gou gewys hulle kan saamspan met die toutrek.

Met die verskillende gemeentes se “hartklop” wat op Erfenisdag saamgekom het, was dit ’n oggend waarop Barberton se mense nie net hul erfenis gevier het nie, maar ook ’n klein tree gegee het na ’n sterker, meer verenigde gemeenskap. 


Karoo roads damaged as search continues near Oudtshoorn
The full extent of the weekend’s damage has yet to be established. There is no confirmed regional repair bill, and road conditions could change as floodwater recedes and authorities inspect bridges and gravel routes.
What happens when a gift voucher expires?
Old gift vouchers are easy to forget in a drawer or wallet until the date on the card catches your eye. Before throwing one away, check how long it has been valid and what the law allows.
Is it safe for women to travel alone in South Africa?
South Africa can be a rewarding destination for women travelling alone, provided independence is paired with preparation.