Die Venters begin ’n nuwe hoofstuk in Australië

Barend en Chrisnia Venter het in 2026 hul Barberton-wortels agtergelaat en na Australië verhuis om ’n nuwe toekoms vir hul gesin te bou.

Die Venters begin ’n nuwe hoofstuk in Australië
Chrisnia, Juan-Lou en Barend Venter. Foto's verskaf deur Chrisnia.
Click HERE for more info.

Nog ’n jong egpaar met Barberton-wortels het vroeër die jaar besluit om hul vlerke te sprei en ’n nuwe hoofstuk van hul lewe in Australië te begin.

De Kaap Echo het reeds met verskeie oud-Barbertonners gesels wat die afgelope paar jaar Suid-Afrika verlaat het om nuwe geleenthede oorsee aan te pak. Barend en Chrisnia Venter is die jongste egpaar om hul ervaring met ons te deel. Hulle het na Australië verhuis en hoewel hulle nog net ’n paar maande daar is, begin hulle reeds hul voete vind in hul nuwe omgewing.

Vir beide Barend en Chrisnia was Barberton vir ’n aantal jare hul tuiste. Chrisnia was ’n onderwyseres in die senior fase by Laerskool Barberton Primary, terwyl Barend as bemarkingsbeampte by die skool gewerk het. Die besluit om Suid-Afrika te verlaat, was nie een wat oornag geneem is nie.

“Ons het so twee jaar gelede besluit ons wil nie vir altyd in Suid-Afrika bly nie,” het Chrisnia aan ons vertel. “Ek was nog nooit uit die land uit nie en ons het begin kyk na opsies. Ek het altyd my oog op Australië gehad, maar die spinnekoppe en slange het ons twee keer laat dink.”

Nadat hulle met verskeie mense gesels het, het hulle uiteindelik besluit om die kans te waag. Die feit dat die 2027 Rugbywêreldbeker in Australië aangebied word, was volgens hulle “die kersie op die koek”. Hulle het die nodige visumaansoeke ingedien en daarna begin wag om uit te vind of die nuwe pad waarop hulle besluit het, wel vir hulle bestem was.

Die proses was nie vinnig nie. “Dit was maar ’n langdurige proses.”

Intussen het nog ’n belangrike hoofstuk in hul lewe begin toe hul seuntjie, Juan-Lou, in 2023 gebore is. Vir die egpaar het die geboorte van hul seun hul besluit om ’n nuwe toekoms elders te probeer bou, verder versterk. “Ons dink nie daar is meer ’n toekoms vir ons kinders in Suid-Afrika nie."

Toe die visums uiteindelik goedgekeur is, het ’n werksgeleentheid vir Chrisnia die besluit ’n konkrete vorm gegee. Sy is ‘n pos by ’n Christelike skool in Whyalla, Suid-Australië, aangebied en besluit om dit te aanvaar.

Whyalla.

Whyalla is ’n kusstad aan die Eyre-skiereiland en het ’n heel ander leefstyl as die een waaraan die Venters in Barberton gewoond was. Vir klein Juan-Lou was die aanpassing egter positief. “Ons seuntjie pas goed aan. Hier is ongelooflike parkies en buitemuurse aktiwiteite vir kinders,” vertel hulle. Hy is deeltyds by ’n Early Learning Centre ingeskakel en geniet die geleentheid om tyd saam met ander maatjies deur te bring. Barend het ook nou begin werk as ‘n kontrakteur by OneSteel Whyalla.

Soos met enige groot verhuising, is daar egter ook dinge wat die Venters mis. Familie en vriende is steeds ’n groot deel van hul gedagtes en hulle raak nog gewoond aan die Australiese kultuur en die manier waarop dinge daar gedoen word. Een ding waarvoor hulle egter nog nie hoef te bekommer nie, is die einste wesens wat hulle aanvanklik laat huiwer het om Australië toe te trek. Hulle het laggend vertel: “Gelukkig nog geen spinnekoppe of slange teëgekom nie!”

Daar is ook ander dinge wat hulle mis, veral wanneer dit by sport kom. Australië bied ’n groot verskeidenheid sportklubs en aktiwiteite, waaronder netbal en footy, maar die Suid-Afrikaanse manier van sportbeoefening bly steeds die beste keuses. Hulle mis veral die atmosfeer rondom sport en die Suid-Afrikaanse tradisie dat toeskouers ná ’n wedstryd sommer saam kuier en braai.

Tog lyk dit asof die Venters reeds begin om hul nuwe lewe te omarm. Hulle besef dat dit tyd sal neem om werklik gevestig te voel en dat daar altyd dinge uit Suid-Afrika sal wees wat hulle sal mis. Familie en vriende bly immers familie en vriende, ongeag hoeveel kilometers tussen hulle lê.

Hulle beplan beslis om Suid-Afrika weer te besoek. “Ons sal beslis in Suid-Afrika gaan kuier, want ons familie en vriende is daar,” maar besoeke aan Suid-Afrika beteken nie noodwendig dat hulle van plan is om terug te keer nie. Selfs na slegs ’n paar maande in hul nuwe land, is die Venters se voorneme duidelik. Hulle wil Australië hul nuwe tuiste maak.

Vir Barend en Chrisnia Venter is die reis dus nog maar aan die begin. Daar is ’n nuwe huis, ’n nuwe land, ’n nuwe skool en ’n nuwe kultuur om te leer ken, maar tussen die verlange na familie, die aanpassing by ’n ander manier van lewe en die ontdekking van alles wat Australië bied, bou hulle stadig maar seker aan die nuwe toekoms waarvoor hulle die groot besluit geneem het.

Van Barberton se Laerskool tot die kus van Whyalla in Suid-Australië is dit ’n groot afstand. Soms moet ’n mens ver van die bekende beweeg om te ontdek waar jou volgende hoofstuk begin.


What the Karoo’s new wind-energy corridor means for Murraysburg and Richmond
The Karoo’s contribution to the easing of the national grid, and the positive environmental impact of sustainable energy production, is now well under way.
How to leave a gathering early without making it awkward
You do not have to stay until the last drink is poured just because everyone else is still there. A simple exit can help you leave on good terms without dragging out the goodbye.
Is it safe to travel in Mozambique?
Is Mozambique safe? The answer depends very much on where you are going.