Die Strydoms se reis van geloof, groei en 'n nuwe begin
Van Barberton tot Nieu-Seeland en Australië. Jaco en Leana Strydom se storie is een van geloof, opoffering en groei oor kontinente heen.

Vir baie Barbertonners bly die idee om oorsee ’n nuwe lewe te begin net dit, ’n idee of dalk ‘n verre droom. Vir Jaco en Leana Strydom het daardie droom in 2018 ’n werklikheid geword toe hulle die groot besluit geneem het om Suid-Afrika te verlaat en hulle geluk in Nieu-Seeland te gaan soek.
“Ons het reeds vriende gehad wat geïmmigreer het na Nieu-Seeland,” vertel Leana. “Vir ons was dit ’n geleentheid om te sien wat die wêreld ons kan bied en om vir ons seuntjie ’n toekoms te gee met meer stabiliteit en sekerheid.”
Jaco het in Augustus 2018 na Auckland vertrek om die pad voor te berei, terwyl Leana en hul seuntjie, Luhan, destyds net 11 maande oud, in November gevolg het. Dit was nie net ’n fisiese reis na die ander kant van die wêreld nie, maar ook die begin van ’n emosionele en lewensveranderende avontuur.
Hulle het hul ‘n nuwe lewe in Auckland begin, waar hul gesin ook later uitgebrei het met die geboorte van hul tweede seun, Jordan. Met verloop van tyd het die Strydoms ook hul Nieu-Seelandse burgerskap ontvang, ’n belangrike mylpaal wat hul nuwe tuiste amptelik bevestig het.
Vir Leana, ’n gekwalifiseerde hoërskoolonderwyseres, wat by Hoërskool Barberton skool gehou het, was die onderwysstelsel in Nieu-Seeland ’n groot verskil van dit waaraan sy gewoond was in Suid-Afrika. Sy het by verskeie skole gewerk, van ’n St Cuthbert’s New Market wat ‘n privaat Katolieke meisieskool is, tot ’n seunsskool, Kelston Boys wat ‘n “all boys Māori Pasifika”-skool is. Hier het sy heelwat van die Māori kultuur, die mense en hulle taal geleer. “Hulle is n groot rugbyskool en baie van die ou All Black rugby spelers kom van daar”.
Leana sê dat daar niks so 'exhilarating' is soos ‘n skoolsaal vol groot Māori en Pasika seuns wat hul skool haka doen in vollebors en met trots. “Dit is ‘n belewenis.”
Sy het ook by een van die grootste skole in die Suidelike Halfrond met meer as 4000 leerders skool gehou. Haar laaste pos was by ’n kleiner Christenskool in die area.
“Die werkslading is baie minder,” verduidelik sy. “Hier is jy net ’n onderwyser, nie ook afrigter, spanbestuurder of organiseerder nie. Daar is aparte rolle vir buitemuurse aktiwiteite. Tog kom die lewe hier met sy eie uitdagings en jy moet hard werk om alles te kan bekostig. Om ‘n huis te huur is duur, en om ’n huis te koop is nog moeiliker.”
Volgens Leana was die eerste paar jaar nie maklik nie. Die kultuurskok, die afstand van familie en die gevoel van isolasie het hul tol geëis en dit was net vererger met die wêreldwye COVID-19-pandemie.
“Vriende word jou familie,” sê Leana. “Ons was bevoorreg om ’n ongelooflike groep vriende te hê, baie van hulle afkomstig van ons eie klein dorpie, Barberton, en ou skoolvriende. Mens leer om op mekaar staat te maak, veral as jy nie oumas, oupas, ooms of tannies naby het nie.”
Ten spyte van die uitdagings het die Strydoms hul voete gevind. Hulle geloof het ’n belangrike rol gespeel in hul aanpassing. “As dit nie vir ons geloof was nie en dat ons by ’n wonderlike kerkfamilie kon inskakel nie, sou ons storie dalk heeltemal anders gewees het,” vertel sy. “Al die eer gaan aan ons Hemelse Vader.”
Na agt jaar kan Leana met oortuiging sê dat hulle nie sommer sal terugkeer Suid-Afrika toe nie. “Ons is gelukkig. Ons kinders is gelukkig en ons is tevrede met die besluit wat ons gemaak het.”
Hul twee seuns is nou, soos sy dit stel, “regte kiwis”, maar hul wortels bly diep Suid-Afrikaans. “Hulle praat nie veel Afrikaans nie, maar hulle verstaan dit. Hulle weet ons braai elke naweek en al wat hulle wil doen is rugby en sokker speel,” lag sy. “Ons sal hulle aanhou leer van Suid-Afrika, ons familie, ons kultuur en ons taal.”
Leana is eerlik oor die werklikheid van emigrasie. “Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Dit is nie maklik om alles en almal wat jy ken en liefhet agter te laat nie. Daar is opofferings wat jy maak, ’n rou proses oor wat jy verloor het. Dit is in daardie tyd wat mens gemaak of gebreek word.”
Juis in daardie uitdagings lê die grootste groei. “Daar is niks wat jou meer uitdaag as om uit jou gemaksones te tree en oop te wees vir verandering nie. Ek is nie dieselfde mens as wat ek in Suid-Afrika was nie. Selfs in ons huwelik moes ons leer om baie meer op mekaar staat te maak.”

Na agt jaar in Nieu-Seeland, het die Strydoms weer op die drumpel van verandering gestaan. Aan die einde van 2025 pak hulle hul lewe op en trek na Australië, nog ’n hoofstuk in hul voortdurende reis.
Vir ons in die De Kaap Vallei is hul storie een van inspirasie, maar ook van eerlikheid. Dit is ’n herinnering dat emigrasie nie net oor nuwe geleenthede gaan nie, maar ook oor opoffering, geloof, aanpassing en uiteindelik, groei.
Comments ()