Van Barberton na Taiwan: ’n nuwe lewe in die Ooste

Van Barberton na Taiwan, Marietha Coetzer se storie is een van moed, verlies en 'n nuwe begin.

Van Barberton na Taiwan: ’n nuwe lewe in die Ooste
Marietha Coetzer (agter links) saam met van haar Taiwanese leerlinge. Foto is verskaf deur Marietha Coetzer.

Vir baie mense bly die idee om oorsee te gaan woon en werk net ’n droom, maar vir Marietha Coetzer het dit tien jaar gelede ’n werklikheid geword, een wat haar lewe onherroeplik verander het. Sy was vir baie jare 'n onderwyseres by Laerskool
Barberton.

Vandag skryf sy vanuit Taiwan, waar sy nie net ’n nuwe tuiste gevind het nie, maar ook ’n nuwe doel en gemeenskap. Saam met haar man, Dickie, het hul destyds besluit om Suid-Afrika te verlaat op soek na ’n rustiger, meer gebalanseerde lewe. Die hoë eise van beide se werke het hul tol geëis, en die geleentheid om in die buiteland onderwys te gee, het soos die perfekte uitkoms gelyk.

Met haar niggie en dié se gesin wat reeds onderwysers in Taiwan was, het hulle besluit om soontoe te gaan en het dit die skuif minder onseker laat voel, maar dit het steeds groot moed geverg. "Ons het met net twee tasse vertrek, sonder kennis van die taal of kultuur en wat op ons gewag het," het sy gesê.

Die eerste paar jaar was gevul met avontuur en aanpassing, maar ook met hartseer toe Dickie ná vier jaar in Taiwan oorlede is. Vir baie sou dit die einde van die pad beteken, maar vir Marietha het dit ’n keerpunt geword. Ten spyte van haar verlies het sy gekies om aan te bly en voort te bou aan die lewe wat hulle saam begin het.

Marietha en Dickie Coetzer.

Vandag werk sy in die Yunlin Regeringsprogram vir Afgeleë Skole, met Dongren Junior High School in Huwei as haar basis. Haar werk neem haar weekliks na verskeie afgeleë skole waar sy Engels onderrig, terwyl sy ook betrokke is by die skool se “English Village”. Hier kry leerders die geleentheid om praktiese Engels te oefen, van reis en hotelbesprekings tot restaurant-etiket en inkopies.

Die rol bring nie net professionele vervulling nie, maar ook die geleentheid om deel te wees van ’n internasionale span onderwysers wat saamwerk om ’n verskil te maak in jong lewens. Na vyf jaar se diens het Marietha permanente verblyfstatus in Taiwan ontvang, ’n mylpaal wat haar lewe verder gestabiliseer het. Sy beskryf die voordele as uitsonderlik: ’n uitstekende mediese stelsel, akkommodasietoelae, pensioenbydraes en selfs ’n jaarlikse reistoelae.

Dit is egter nie net die praktiese voordele wat Taiwan spesiaal maak nie. "My seun, Drickus en sy gesin, het vyf jaar gelede hierheen verhuis." Hy studeer Internasionale Besigheidsbestuur aan Yuntech Universiteit en werk saans by ’n 'cram' skool. Sy vrou gee ook onderrig by ’n 'cram' skool. ’n 'Cram' skool is ’n gespesialiseerde, privaat, naskoolse leerinstelling wat ontwerp is om leerders te help om hul akademiese prestasie te verbeter, moeilike vakke te bemeester of intensief vir toelatingseksamens voor te berei.

Drickus en Jess saam met hul seuns Kyle en Michai en ouma Marietha en (regs) is dit duidelik dat hul harte nog steeds groen en goud is.

Saam maak hulle twee seuns groot. Mickai is in Graad 2, vlot in Chinees en Engels en praat ook Afrikaans. Kyle is in die kleuterskool, en praat ook reeds beide Chinees en Engels. “Dit is ’n voorreg om te sien hoe hulle van so jonk af drie tale bemeester,” het Marietha gesê.

Hoewel daar steeds dinge is wat sy van Suid-Afrika mis, het Taiwan haar hart gesteel. Die vriendelikheid en hulpvaardigheid van die plaaslike mense het ’n groot rol gespeel in haar aanpassing, en vandag is sy deel van ’n hegte gemeenskap, insluitend die SAFFAS-groep waar Suid-Afrikaners gereeld bymekaar kom en mekaar ondersteun.

Foto is verskaf deur Marietha Coetzer.

Sy besoek steeds een keer per jaar haar dogter, Chantal, en vriende in Suid-Afrika, maar erken eerlik dat sy haarself nie meer permanent hier kan sien woon nie. “As ek so terugkyk op die afgelope tien jaar, was die besluit om na Taiwan te kom die beste besluit wat ek ooit gemaak het,” het sy gesê.

Vir Marietha is Taiwan nie meer net ’n bestemming nie, dit is haar huis, haar toekoms en haar liefde.