Barberton se Echo kry ‘n eie tuiste

Aan elkeen wat ’n storie gestuur het, ’n foto gedeel het of eenvoudig saam gelees het – dankie.

Barberton se Echo kry ‘n eie tuiste
Foto: Anchen Coetzee.

Wat as 'n langgekoesterde idee begin het, De Kaap Echo, het op 13 April stilweg vorm aangeneem onder die sambreel van Africa InTouch News.

Deur die jare is ek keer op keer afgeraai om my vinger in hierdie Barberton-pie te druk met ‘n nuwe publikasie.  Die wat my ken, die mense wat jare lank saam met my gewerk het, wéét daar is min wat my gaan stop wanneer ek iets só duidelik sien in my geestesoog, maar Langenhoven se woorde, “Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou,” het nogtans binne my refrein. Dit is nie ‘n onbekende deuntjie vir my nie, want alhoewel ek sekere besluite blitsig, sonder berou of enige wroeging kan maak, is daar ander, soos De Kaap Echo, wat gekou moet word. Jy moet kou en dit dan agter in jou kieste stoor vir die herkou-slag op ‘n ander dag. Hierdie was een van daai. Keer op keer deur die jare sou ek dit boonop uitspoeg ook en behoorlik met die rooi pen inlê, en elke keer tot dieselfde slotsom kom - iets is missing.

Die aand van my 55ˢᵗᵉ verjaardag, op St Patricks-dag, terwyl die herfsson haar kop geknik het oor die Kaapse berge, het ek geweet wat skort.

Die idee van De Kaap Echo was nooit bedoel om net nóg ’n nuusplatform te wees nie - daar is immers genoeg geraasmakers in die wêreld. De Kaap Echo moes  geskep word as ’n tuiste vir Barberton se gemeenskapsiel. Dit moes geanker word in geskiedenis, gesigte en alledaagse stories. Geen sensasie, geen meeding-met, geen angs en drama. Dit sou die stem moes wees wat mense opbou en die dorp weer centre stage plaas.

Daarna was dit maklik. Langenhoven was uit my kop-en-kieste en dinge het oornag gebeur.

Nou, skaars drie maande later, het De Kaap Echo sy eie aanlyn tuiste gekry by www.dekaapecho.co.za.

Hierdie stap vorentoe is grotendeels moontlik gemaak deur die betrokkenheid, ondersteuning en entoesiasme van Barberton se mense. Baie dankie vir jul positiewe gesindheid – was dit nie hiervoor nie, sou De Kaap Echo nog lank aan Africa InTouch News se spene bly suie het. 

Die webtuiste is reeds regstreeks, maar nog in die ontwikkelingsfase. Verbeterings word daagliks aangebring, maar tydens die oorgang sal Africa InTouch News ondersteuning bied om te verseker dat niks verlore gaan en geen lesers agterbly nie. 

My beker loop oor van dankbaarheid teenoor De Kaap Echo redakteur, Lynette Spencer. Sy het die publikasie haar eie gemaak en dit is seker die grootste geskenk wat enigeen kan vra van ‘n gemeenskapsredakteur. Lynette het dadelik my visie gekop. Moontlik is dit omdat ons beide die titel van koerantredakteur van die destydse Barberton Times gedra het en die landskap ken, of dalk omdat ons al jare reeds kollegas by iOlogue Media is. Hoe dit ookal sy, haar toewyding en geloof in hierdie publikasie, haar konstante hand-op-papier en haar harde werk oor die afgelope paar maande het gehelp om De Kaap Echo ’n werklikheid te maak. Lynette is diep lief vir Barberton en die gemeenskap en niemand anders sou so perfek in hierdie rol gepas het soos sy nie.

Wat gebeur nou?

  • Soos bo genoem ontwikkel die nuwe webtuiste steeds, maar ons begin hierdie week reeds artikels vanaf daar te deel na De Kaap Echo se Facebookblad, ongeag of ons besig is met nuwe funksies byvoeg;
  • ’n Media-verteenwoordiger, Christien Visagie, sal binnekort in Barberton en omliggende areas begin werk om met besighede en gemeenskapslede kontak te maak. Ons is immers ‘n besigheid en om die toekoms van hierdie publikasie te verseker is hierdie stap onvermydelik, dus vra ons dat julle haar met ope arms sal verwelkom;
  • Die redakteur se amptelike e-posadres sal ook binnekort beskikbaar wees. Intussen kan stories en foto's steeds via die bestaande kanale gedeel word deur ‘n epos aan Lynette te stuur of haar te WhatsApp.

Aan elkeen wat ’n storie gestuur het, ’n foto gedeel het of eenvoudig saam gelees het – dankie.

De Kaap Echo behoort nou aan Barberton.

WhatsApp ons gerus hier indien jy meer te wete wil kom.