Wanneer kommentaar karakter ontbloot
Die jongste Editor’s Echo reflekteer oor sosiale media, verantwoordelikheid en die pyn wat onnadenkende woorde kan veroorsaak. In tye van hartseer behoort ons mekaar op te bou, nie af te breek nie. Lees gerus en dink saam: Dra my woorde positief by?

Sosiale media het vir ons ’n ongelooflike platform gegee waarop inligting weergegee kan word. Dit bring nuus vinnig by mense uit. Dit gee ’n stem aan die gemeenskap. Dit skep geleentheid vir gesprek, maar dit ontbloot ook karakter.
Ek wil spesifiek verwys na verlede week se artikel oor die ongeluk waarin die jong kinders betrokke was. Ons het ’n berig geplaas oor ’n tragiese ongeluk wat jong lewens en die van familie en vriende onherroeplik verander het.
Die doel was nooit sensasie nie. Dit was nooit om emosie uit te buit nie. Dit was eenvoudig om ons lesers in te lig dat ‘n jongman van ons dorp kritiek in ’n provinsiale hospitaal lê, steeds in ’n koma, en dat ’n fonds gestig is om sy ouers te help om hom moontlik na ’n privaat hospitaal oor te plaas vir beter behandeling.
Geen verdraaiing van feite nie. Geen insinuasies nie. Geen dramatiese oorbeklemtoning nie. Net feite, versigtig nagegaan, verantwoordelik aangebied. Trouens, verskeie ander digitale koerante het dieselfde feite gepubliseer, en baie meer.
En tog.....
Die reaksie van sommige mense was teleurstellend. Negatiewe kommentaar. Ongegronde insinuasies. Selfs ’n naamlose oproep waarin die persoon wat gebel het, nie gepraat het nie, maar openlik in die aftergrond gepraat het oor die moontlikheid om regshulp in te roep.

Vir wat presies?
Vir korrekte feite?
Vir ’n poging om ’n jong man moontlik beter mediese sorg te help kry?
Vir gemeenskapsbewustheid?
Hier lê vir my die kern van die saak: Sosiale media het mense gemaklik gemaak om dinge te sê wat hulle nooit van aangesig tot aangesig sou sê nie. Daar is ’n ontstellende gemaklikheid waarmee sommige individue hul swak oordeel, gebrekkige insig en soms bitterheid openbaar.
En dan is daar die ander aspek wat my telkens tref, die vlak van taalgebruik. Die swak styl. Die onversorgde spelling. Die gebrek aan enige vorm van selfredigering voordat ’n kommentaar geplaas word. Dit laat ’n mens wonder: dink ons nog voordat ons daai publiseer knoppie druk? Besef ons dat elke kommentaar iets van onsself verraai?
Kommentaar is nie net woorde nie. Dit is ’n weerspieëling van karakter.
Ek glo vas in vryheid van spraak, maar vryheid sonder verantwoordelikheid word roekeloosheid. Om kritiek te lewer is een ding. Om ongegronde beskuldigings te maak of gemeenskapsinisiatiewe te ondermyn, is iets anders.
Wat hierdie hele affêre vir my en vir Anchen mee gelos het, is ’n bitter smaak in die mond. Nie omdat ons onseker is oor ons feite nie, inteendeel, maar omdat dit wys hoe vinnig mense bereid is om aan te val sonder om eers te verstaan.
Dan was die negatiewe kommentaar ook nie op De Kaap Echo se Facebook blad nie, maar op 'n ander blad waarop ons artikels gedeel word. Daar is 'n vinnige besluit geneem om dit eerder af te haal as om die persoon se blad met negatiewe kommentaar te beswadder.
De Kaap Echo is amper ‘n jaar deel van ons dorp, en sal ’n gemeenskapskoerant bly. Ons fokus is die mense van hierdie vallei, hul stories, hul geskiedenis, hul uitdagings, hul suksesse en soms hul hartseer. Ons werk is om in te lig. Om verantwoordelik te rapporteer. Om ’n platform te bied vir gemeenskapsbewustheid.
Ons soek nie sensasie nie.
Ons wil nie bangmaak nie.
En, ons sal ook nie stilbly wanneer feite die gemeenskap raak nie.
Miskien is dit tyd dat ons almal weer leer om stadiger te reageer. Om eers ordentlik te lees. Om eers te dink. Om te vra: Dra my kommentaar positief by? Of breek dit net af? As jy dan steeds voel jy is nie gelukkig oor ‘n plasing nie, moenie afbrekende kommentaar lewer nie. Kontak ons met ‘n persoonlike boodskap. Ons epos en telefoonnommers is op ons webblad en op Facebook.
Woorde dra gewig. Veral in tye van pyn, en in ’n klein gemeenskap soos ons s’n, behoort ons mekaar eerder op te bou as af te breek.
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.
Comments ()