Plaaslike skrywer Hendrik H. Moller stel debuutroman bekend
’n Barberton-inwoner se droom om ’n boek te skryf het uiteindelik werklikheid geword. Hendrik H. Moller se debuutroman, "Barberton Daisy: contrast of life and death", is ’n Laeveld-riller met ’n tegnologiese ondertoon wat reeds internasionale belangstelling begin trek.
“Ek glo vas my siel is van ink en papier gemaak.” So het Hendrik H. Moller aan De Kaap Echo gesê. Hendrik is ’n Barbertonner wat pas sy eerste boek, Barberton Daisy: contrast of life and death, die lig laat sien het. Die eerste in wat hy hoop ’n reeks Laeveld-rillers sal wees.
Soos dit ’n goeie storie betaam, begin sy eie verhaal met ’n tikkie humor. Hendrik is in Port Elizabeth gebore. “Daar gebly vir drie dae en toe pad gevat Hoëveld toe. Was nie my besluit nie hoor!” het hy laggend vertel. Leondale was sy voorland tot standerd vyf, toe sy ouers besluit het hulle wil Laevelders word. Barberton was op die kaart, en hier het hy in 1992 gematrikuleer.
Na skool het hy “sommer so uit die bloute” besluit om ’n bosbouer te word, want die beplande weermag-oproep het nooit gekom nie. “Ek was veronderstel om in die Junie-opname te wees, maar die regering destyds het ander planne gehad.”
Terwyl hy wag, het hy die geleentheid gekry om bosbou te studeer op Nelshoogte, net buite Barberton. Wat as ’n wagtyd begin het, het ’n loopbaan geword. Hy het die werk begin geniet en sy toekomstige vrou, Wanda, ontmoet.
Drie kinders is uit die huwelik gebore. Leane is die oudste en vandag werk sy vir prokureurs in Nelspruit. Sy het ook gesorg vir die eerste kleindogter, Lynae, wat duidelik oupa se oogappel is.
Dan is dit Benjamin, wat volgens sy pa, “nog onseker is oor alles maar ‘n passie het vir enige iets wat blaf en Playstation in die algemeen” het.
Die jongste is Lukas (9), wat klaarblyklik, “in moderne Engels praat wat niemand behalwe sy skoolmaats verstaan nie”.
“Toe ek my ogies uitvee is dit 2020 en COVID tref ons.” Dis net hier waar die skryfgogga hom gebyt het.
Vra jy hom uit oor sy skrywerervaring, het hy vinnig erken: “Absoluut niks”, sonder om doekies om te draai.
As skoolseun in standerd nege het hy ’n tikmasjien raakgesien en sy hart verloor. “Ek wou sommer ’n vak op skool uitruil vir tik, dink amper dit was Biologie, maar soos jy weet, in daai jare was dit nie die tipe vak wat ’n seun kon vat nie. Jy kon, maar jy wou nie… die manne skinder en al die vrae moes beantwoord word. Naskool of pouses agter die fietsloods, met die vuiste natuurlik.”
In matriek het hy sy eerste kortverhaal op ’n Olivetti getik, met een vinger. “Ek het darem al gevorder na drie toe,” het hy tong in die kies gesê.
Hy lees wyd en verslind boeke van Stephen King, Dean Koontz, John Saul, Christopher Hyde en plaaslik André P. Brink. Donker temas, spanning en sielkundige draaie, dis die wêreld waarin hy tuis voel.
Maar dit was eers in 2020, tydens ’n tydperk van werkloosheid, dat hy ernstig begin skryf het. “Het my ’n rukkie gevat, maar nou ja, eerste boek is klaar, met omtrent vyf ander in die laai wat daglig moet sien.”
Hendrik het geen formele opleiding nie. “Net ’n blerrie groot passie daarvoor!” het hy gesê.
Barberton Daisy: contrast of life and death is die eerste in ’n beplande reeks en word beskryf as ’n Laeveld-riller met ’n tegnologiese ondertoon.
“Ek dink elkeen van ons het so ’n bietjie van ’n ‘conspiracy theorist’ in ons. In Afrikaans noem ons dit skinder met ’n stertjie bygelas,” het hy gesê.
Die storie sentreer rondom droommanipulasie, iets wat hy beklemtoon, nie bloot wetenskapfiksie is nie. “Dis eintlik ’n regte ding. Ek gaan nie uitbrei oor die oorsprong en identiteit van die wetenskap nie, maar as jy daaroor dink, sal die implikasies van die wetenskap en tegnologie daarbuite jou laat wonder…”
Die titel self speel met kontras: lewe en dood, werklikheid en droom, wetenskap en morele grense. Dis ’n storie wat plaaslike geografie verweef met globale vrae oor tegnologie en menslikheid.
Barberton Daisy het reeds drie aanvaardings van onafhanklike publiseerders in Engeland ontvang, naamlik Olympia Publishers, Pegasus Publishers en Europe Books.
Die boek is ook ingeskryf vir die Libraro-boekkompetisie, waar lesers vir hul gunsteling titel kan stem.
Wat Hendrik se verhaal besonders maak, is nie net die boek nie, maar die pad daarheen, van ’n seun wat heimlik ’n tikklas wou neem, tot ’n man wat tydens ’n wêreldpandemie sy passie ernstig begin uitleef het.
Die eboek is beskikbaar op Amazon, Apple, Tolino, Smashwords, Kobo, Everand, BorrowBox, Vivlio, Bookshop.org, Gardners, cloudLibrary en Fable. Vir ’n sagtebanduitgawe kan Hendrik direk gekontak word per epos of op WhatsApp.
Comments ()