On Market Square, 'n tikkie nostalgie met 'n moderne kinkel

Van 'n heerlike bord kos en varsgebakte lekkernye tot unieke geskenke, oudhede en vintage-skatte: On Market Square in Barberton bring 'n verskeidenheid ondernemings onder een dak bymekaar.

On Market Square, 'n tikkie nostalgie met 'n moderne kinkel
Die perseel vir On Market Square soos dit vandag lyk. Foto's: Lynette Spencer.
In die laat 1800s was dit die perseel van Auction House en later die hoofkantoor van die Britte.

Net bokant Barberton se ou markplein, waar inwoners in vervloë jare bymekaargekom het, is daar vandag 'n besigheid wat op sy eie manier mense bymekaarbring. On Market Square huisves verskillende ondernemings onder een dak en het oor die jare ontwikkel tot 'n gewilde stopplek vir plaaslike inwoners én besoekers aan die dorp.

Die familiebesigheid het sy ontstaan in 2015 gehad, toe die familie, ná die verkoop van hul supermark in die Eureka-sentrum, besluit het om drie afsonderlike ondernemings te begin: Back 2 Basics, Die Plaaskombuis en Dusty Tracks. Die ondernemings is aanvanklik vanuit die Greenstone Trading-sentrum in De Villiersstraat bedryf.

Volgens Maria Engelbrecht het die familie later besluit dat dit finansieel meer sinvol sou wees om al drie ondernemings onder een dak te huisves. Die huidige perseel in Pilgrimstraat het toe hul nuwe tuiste geword. Die drie ondernemings het mekaar goed aangevul en saam 'n unieke aanbod geskep wat kliënte verskillende redes gegee het om daar 'n draai te maak.

Dusty Tracks het in 2021 uit die onderneming geskuif, terwyl die History and Mining Museum, wat historiese en mynbouverwante items gehuisves het, in 2026 ook na 'n ander perseel verskuif het.

Maria Engelbrecht voor die rak met handgemaakte leerartikels. Besoek Back 2 Basics by On Market Square in Barberton, of stuur hulle 'n WhatsApp of e-pos.
Dit beteken egter nie dat On Market Square sy karakter verloor het nie. Inteendeel, die onderneming het voortgegaan om uit te brei en nuwe elemente by te voeg. Maria beskryf dit as 'n unieke eenstop-bestemming vir toeriste wat graag hul bene wil rek, ietsie wil eet, 'n geskenkie wil koop of sommer 'n paar tuisgebakte lekkernye vir die pad, langnaweek of vakansie wil saamneem.

Met die pragtige uitsig oor die Makhonjwa-berge, heerlike kos, vintage motorfietse en oudhede wat besigting kan word, is daar inderdaad heelwat om die oog en die smaakorgane besig te hou.

Soos Maria dit stel: “Hier vind 'n mens rus vir jou siel, met iets vir elkeen.”

Back 2 Basics bied ook 'n verskeidenheid produkte en dienste wat op die behoeftes van die plaaslike gemeenskap gerig is. Inwoners kan onder meer hul waterhouers hervul met osmose- en osoonbehandelde water. Daar is ook gebottelde water in verskillende groottes beskikbaar, asook handelsmerk plakkers wat op waterbottels aangebring kan word vir besighede en funksies.

Die winkel se produkreeks sluit natuurlike gesondheidsprodukte van Pierre Eco Health en ander verskaffers in, asook kruie, speserye, sade, heuning en tuisgebakte produkte. Besoekers kan ook deur 'n verskeidenheid historiese en tweedehandse boeke blaai, terwyl braaihout, houtskool en vuurhout deel van die praktiese aanbod vorm.

Een van die besondere aspekte van die onderneming is die ondersteuning wat dit aan plaaslike kreatiewe entrepreneurs bied.

Verskeie inwoners van Barberton en die omliggende omgewing voorsien handgemaakte produkte op 'n besendingsbasis. Dit sluit onder meer oorbelle, handwerk en leerprodukte in. Die nuutste toevoeging tot die winkel is 'n verskeidenheid antieke en vintage-meubels, teestelle en ander interessante items wat beslis vir liefhebbers van oudhede iets sal bied.
Prox Anastassiou wat sorg vir die heerlike kos in Die Plaaskombuis. Besoek Die Plaaskombuis by On Market Square in Barberton, of stuur hulle 'n WhatsApp of e-pos.

Waar die winkel se rakke vir sommige die grootste aantrekkingskrag is, is Die Plaaskombuis waarskynlik die rede waarom ander sommer 'n rukkie langer vertoef. Die restaurant, onder die bekwame bestuur van Prox Anastassiou, bied 'n uitgebreide spyskaart met iets vir verskillende smake en eetlusgroottes. Van verskeie ontbytdisse tot pannekoek, wraps, toebroodjies en slaaie, is daar genoeg om die hongerpyne te stil. Die spyskaart sluit ook vis, T-been, burgers, hoender en ribbetjies in, met 'n spesiale kinder-spyskaart vir die jonger besoekers. Koek, melkskommels en 'n gelisensieerde koffiewinkel rond die eetervaring af.

Kosfoto's voorsien deur Maria.

Die jongste toevoeging tot die On Market Square-familie is ChocVilla Cakes, wat in die behoefte aan iets besonders vir spesiale geleenthede voorsien. Die onderneming spesialiseer in koeke vir verskillende vieringe, insluitend troukoeke, asook klein koekies, skons en platterborde. Dit maak die aanbod onder een dak nóg meer volledig.

Terwyl jy wag vir jou koffie en ete kan jy die vintage motorfietse bekyk.
Vir Maria en haar familie is Die Plaaskombuis egter steeds 'n onderneming wat ruimte vir groei en nuwe idees bied. Hoewel daar reeds verdere planne vir die toekoms is, hou sy voorlopig die besonderhede geheim.
Een ding is seker: of jy nou op soek is na 'n lekker bord kos, 'n vars koppie koffie, 'n unieke geskenk, iets vir jou huis, 'n bottel drinkwater of bloot 'n rustige plek om die uitsig oor die berge te geniet, On Market Square bied 'n hele paar goeie redes om jou volgende besoek aan Barberton 'n bietjie langer te maak.
Klik hier vir Google Street View. Foto: Google Earth. Digitaal aangepas.