Nuwe lewe by Laerskool Barberton Primary

Laerskool Barberton Primary begin die jaar op ’n hoogtepunt met twee nuwe departementshoofde, vier nuwe onderwysers en twee assistent-onderwysers wat die skool se span verder versterk.

Nuwe lewe by Laerskool Barberton Primary
Bo v.l.n.r.: Lydia Fourie en Roeléne Engelbrecht en (onder) Suné Bodenstein; Anzel Bosch; Antionette Ballantyne en Andria Venter.
Laerskool Barberton Primary het die nuwe skooljaar afgeskop met die bevordering van twee toegewyde onderwysers tot departementshoofposte, asook die verwelkoming van vier nuwe onderwysers en twee assistent-onderwysers wat die skool se span verder versterk.

Lydia Fourie, wat in 2006 aan Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein gematrikuleer het, het haar akademiese loopbaan aan die Universiteit van die Vrystaat begin waar sy ’n BSc Agric-graad en honneurs voltooi het, waarna sy ook haar Hoër Onderwys Diploma verwerf het. Volgens Lydia het sy nog altyd in haar hart geweet dat onderwys haar roeping is.

Sy het in 2013 haar onderwysloopbaan by Laerskool Badplaas begin waar sy ook bevorder is tot departementshoof. Met die uitbreiding van haar gesin het sy en haar man egter besluit om na ’n groter dorp te verhuis, waarna sy by 2020 by Laerskool Barberton Primary aangestel is as ‘n gewone onderwyser. Hier het sy hoofsaaklik Natuurwetenskap vir die graad 5-leerders aangebied en ook as graadhoof en vakhoof gedien, wat haar liefde vir leierskap verder versterk het.

Aan die einde van 2025 het Lydia vir ’n departementshoofpos aansoek gedoen en is sy bevorder tot departementshoof van die intermediêre fase. “Ek sien met groot opgewondenheid uit na die nuwe verantwoordelikhede wat hierdie rol inhou,” het Lydia gesê.

Buiten haar akademiese betrokkenheid is sy ook die skool se atletiekorganiseerder en aktief betrokke by sportafrigting, insluitend netbal en hokkie, asook die jaarlikse konsert.

“Die holistiese ontwikkeling van leerders is vir my van groot belang, en ek glo daaraan om nie net in die klaskamer nie, maar ook as rolmodel vir kollegas en leerders ’n verskil te maak.”

Roeléne Engelbrecht, wat in die Laeveld grootgeword het en in 2014 aan Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het, beskryf haar koshuisjare by dié skool as ’n besondere vormende tyd in haar lewe waartydens sy lewenslange vriendskappe gesmee, en ook haar lewensmaat ontmoet het.

Ná skool het sy eers gewerk met die droom om ’n verpleegster te word, maar het gou besef dat haar hart by die onderwys lê en meer spesifiek by die grondslagfase.

Sy het in 2016 haar studies aan die Universiteit van Pretoria se Groenkloofkampus begin en in 2019 haar onderwysgraad met lof voltooi. Dieselfde jaar het sy by Laerskool Barberton Primary aansoek gedoen en in 2020 as graad 2-onderwyser begin skoolhou.

“In my onderhoud is ek gevra wat my vyfjaarplan is, waarop ek geantwoord het dat ek graag binne vyf jaar ’n kleuterskoolhoof sou wou wees,” het Roeléne gesê.

Ses jaar later begin sy dié jaar as departementshoof van die grondslagfase, met verantwoordelikheid vir die skool se graad 1’s asook die kleuterskool (graad R en RR). Sy is ook die mini-netbalorganiseerder, dien as junior atletiekspanbestuurder en rig graag konsertdanse af. Haar grootste fokus vir die jaar is om ’n sterk grondslag te lê vir die Afrikaanse graad 1-leerders van 2026 en om ’n positiewe en blywende invloed op hul skoolloopbaan te hê.

Benewens die twee nuwe departementshoofde het die skool ook vier nuwe onderwysers verwelkom.

Suné Bodenstein, oorspronklik van Pretoria, het haar onderwysgraad deur AROS verwerf en in 2023 haar loopbaan by Laerskool Nelspruit begin. Sy is nou ’n graad 6-registeronderwyser by Laerskool Barberton Primary en bied Lewensvaardighede vir graad 4 en 6 aan, asook Liggaamlike Opvoeding vir die graad 4 tot 6-dogters. Sy beskryf haarself as sportliefhebber met ’n groot liefde vir afrigting, en voeg tong in die kies by dat sy ook hou van McDonald’s, die kleur pienk en om haar verjaarsdag te vier.

Anzel Bosch, ’n gebore en getoë Laevelder van Witrivier, het haar onderwyskwalifikasie by AROS verwerf terwyl sy ’n studentepos by Laerskool Nelspruit beklee het. Sy is ook ’n graad 6-registeronderwyser en bied Natuurwetenskap en Tegnologie asook Afrikaans Huistaal aan. Anzel geniet die natuur en buitelewe en erken dat roomys haar grootste bederf is.

Antionette Ballantyne, ’n Nataller van die Noordkus, het aan Stanger Hoërskool gematrikuleer en haar onderwyskwalifikasies aan die Universiteit van Pretoria en Unisa verwerf. Sy het haar onderwysloopbaan by Laerskool Mtunzini begin en daarna vir 22 jaar by Laerskool Piet Retief skool gehou. Vanjaar is sy ’n graad 5-registeronderwyser by Laerskool Barberton Primary waar sy Sosiale Wetenskap vir die graad 5’s en Engels Tweede Taal vir ’n graad 6-klas aanbied. Sy is ook verantwoordelik vir die bemarking van die skool. Antionette geniet die buitelewe, staproetes en fotografie, en leef haar geloof met oortuiging uit.

Andria Venter, oorspronklik van Pretoria, woon sedert 2019 in Mpumalanga en het reeds in 2017 begin skoolhou. Sy het onderwyservaring in Pretoria, Nelspruit en Graskop opgedoen en studeer tans BEd Grondslagfase. Sy het reeds haar NQF Level 4-kwalifikasie en Kwanda Kinetics voltooi. Vanjaar is sy verantwoordelik vir ‘n graad 2 klas. Andria is in 2024 getroud en beskryf haar twee “Great Danes” as haar kinders. Sy is lief vir lees en kreatiewe handwerk soos teken, verf, borduur en bak, en erken laggend dat tuinmaak nie een van haar sterk punte is nie.

Fatima Mohamedy en Steven van der Lith.

Die skool het ook twee assistent-onderwysers aangestel wat besig is met hul onderwysstudies, met die hoop dat hul hier waardevolle ervaring sal opdoen. Fatima Mohamedy en Steven van der Lith sal deel vorm van die onderwysspan en bydra tot die daaglikse akademiese en opvoedkundige bedrywighede van die skool.