’n Jaar van groei, dankbaarheid, en nuwe drome vir 2026
2025 was ’n jaar vol groei, stories en ongelooflike gemeenskapsgees. Terwyl ons die jaar afsluit, sê De Kaap Echo dankie aan elke leser en ondersteuner.
🔴You might also like to read:


Terwyl 2025 sy laaste asem uitblaas, besef ek weer hoe ongelooflik vinnig ’n jaar kan vlieg wanneer daar min rus en baie werk is. Vir ons by De Kaap Echo was dit nie net ’n bedrywige jaar nie, dit was ’n ware mylpaal.
Sedert ons in April die aanlyn-koerant amptelik afgeskop het, was elke storie en elke gesprek met die gemeenskap ’n herinnering aan hoekom ons hierdie platform begin het: om die stem van Barberton en die omliggende De Kaap-vallei te wees.
Ons is diep dankbaar vir die ondersteuning wat ons van dag een af ontvang het. Elke leser wat ingeteken het, elke persoon wat my gekontak het met ‘n storie, elke gemeenskapslid wat inligting, foto’s en nuus stuur. Julle maak hierdie publikasie moontlik. Sonder julle was De Kaap Echo net ’n idee op papier. Dis per slot van rekening die Barbertonners se eie platform.
Ons hoop opreg dat 2026 ’n jaar gaan wees waarin ons nog verder en vinniger kan groei. Ons hoop dat meer mense nou verstaan wat ons probeer doen: om eerlike, vars en plaaslike gemeenskapsnuus te bring met integriteit en ’n hart wat warm klop vir ons dorp.
Ons vertrou ook dat meer besighede in die nuwe jaar sal aansluit en saam met ons op die webblad sal verskyn. Dít is uiteindelik die sleutel tot ons volhoubaarheid.
Op die oomblik werk ons, en ek sê dit met ’n tong in die kies, “verniet”, maar ons glo vas dat die gemeenskap, saam met plaaslike ondernemings, sal help om hierdie gemeenskapsblad se toekoms te verseker.
En nou… is dit tyd vir terugsit en diep asemhaal.
Aan almal wat binnekort koers kies vir ’n welverdiende vakansie: ry versigtig, wees wakker, geniet die tydjie saam met familie en vriende en kom veilig terug. Aan dié wat tuisbly: mag dit ’n tyd van rus, familie, stilte en lekker kuier om ‘n braaivleisvuur wees. Mag jul batterye behoorlik herlaai vir ’n sterk, blink en voorspoedige 2026.
Ek en my ander hefte gaan self ’n jarelange item op ons bucket list aftik en sien baie uit na die avontuur wat vir ons voorlê. Dalk so bietjie meer daarvan in die nuwe jaar.
Indien daar nuus is wat De Kaap Echo moet ontvang terwyl ek weg is, stuur dit asseblief direk aan Anchen Coetzee by anchen@iologuemedia.com of stuur haar 'n WhatsApp. Sy sal sorg dat dit verwerk en geplaas word en sal ook steeds voortgaan om lifestyle artikels te publiseer van ons staff-skrywers. Daar sal heel moontlik ook 'n paar van haar Kaaps-Bolandse kreatiewe skrywe verskyn.
Dankie, Barberton en die hele De Kaap-vallei. Dankie dat julle ons ’n tuiste gegee het. Dankie dat julle lees, deel, bydra en saam droom.
Mag hierdie feestyd vir elkeen van julle vrede, warmte en ‘n ware Christusfees wees, en mag 2026 ’n jaar wees waarin ons almal, én De Kaap Echo, met hernude krag kan voortstap.
𝖳𝗈𝗍 𝗐𝖾𝖾𝗋𝗌𝗂𝖾𝗇𝗌!
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.
🔴You might also like to read:






Comments ()