My ontmoeting met die Gentle Giants van Namibië
Ek het altyd gehoop ek het ook die voorreg om 'n woestynolifant te sien, en ek het!

Teen dié tyd weet die meeste mense wat my goed ken: ek het ’n besondere liefde, of soos my kinders dit noem, ’n volbloed manie, vir olifante.
Dit het sy wortels diep uit my kinderjare. Ek het grootgeword in Louis Trichardt, letterlik teenaan die Krugerwildtuin. My ouers was lief vir die natuur, en ons het grootgeword met wild, stofpaaie en bosstories as deel van die alledaagse lewe.
Maar my verhouding met olifante was nie altyd een van bewondering nie, inteendeel.
My vrees vir hulle het vroeg posgevat, ná ’n voorval wat steeds in familieverhale voortleef: ’n trop olifante wat ons ou rooi Kombi bestorm het. Ek was nog ’n baba, vasgegordel in my babasstoel reg by die venster, toe ’n olifant se trompetter net daar langs my losbars. Van daardie dag af was dit klaarpraat. Ek wou nooit by ’n olifant stilhou nie. In die wildtuin het ek weg gekyk, of sommer op die voertuig se vloer gaan sit. Daardie vrees het my tot diep in my volwasse lewe gevolg.
Tot een dag.
As joernalis moes ek ’n groep mense deur ons dorp en omliggende gebiede vergesel vir die verfilming van ’n Laeveld-video vir oorsese bemarking. By KwaMadwala was ek, laat ons maar eerlik wees, effens gedwing tot ’n ontmoeting (nie uit 'n voertuig nie) met hul twee mak olifante. Met ’n hart wat in my keel klop, is ek ook op een se rug gehelp. Nog nooit in my lewe was ek so bang, en terselfdertyd in só ’n toestand van absolute ekstase nie. Daardie dag het iets in my kop geskuif. My hele ingesteldheid het verander. Ek het daarna elke boek en artikel oor olifante wat ek in die hande kon kry, verslind.
Van toe af het ek ’n droom gehad: om eendag ’n woestynolifant te sien. En hierdie afgelope Desember het daardie droom waar geword.
Na jare se beplanning en spaar het ons uiteindelik Namibië aangedurf. Ek kan eerlik sê: selfs Kruger se olifante sal nooit weer vir my dieselfde wees nie.

’n Skoolvriend, Deon Brummer, en sy vrou Lidia besit al jare lank ’n lodge langs die Huabrivier in Damaraland. Een van hul aktiwiteite is wildsritte in die droë rivierloop, met die hoop om woestynolifante raak te sien.
Dié reuse is egter net sekere tye van die jaar daar, gewoonlik in die somer, wanneer water meer beskikbaar is. In November laat weet Deon: Die olifante is terug. Ek antwoord terug: hou hulle net daar, ek kom!
Ons arriveer Kersdag by Huab Lodge, en ek is skaars uit die voertuig toe begin ek al uitvra. Deon skud sy kop. Met die ongewoon baie reën wat dié jaar geval het, het hulle lanklaas ’n olifant gesien. Die troppe beweeg hoër op in die berge, gebiede wat selfs vir sy Land Cruiser onbegaanbaar is.
Maar hoop is ’n hardnekkige ding.
Met duime gekruis, ’n skietgebedjie na bo, en saam met twee Switsers, pak ons een oggend vroeg die Huabrivier aan. Ons kry spore, baie spore, maar almal oud. Ná sowat 75 km sien Deon en die spoorsnyer egter iets raak: vars spore. Dit lei uit die rivier, ’n klofie in.
Elvis word gestuur om te gaan kyk. Ons wag. Koffie en beskuit help min teen die spanning. Toe kraak die radio: opgewonde, vinnige woorde, nóg spore, en vars mis, dalk net ’n uur oud. Elvis gaan verder stap.
My opgewondenheid het geen perke geken nie. Selfs die irriterende muggies wat om my kop gedans het, was vergete.

Skielik verloor Deon radiokontak. Hy klim ’n randjie uit vir sein. En toe sien ek hom terughardloop. Elvis het die trop gekry. Ses olifante. By ’n waterfontein. Maar… ons sal moet loop.
Dit was in die middel van die dag. Die hitte en son was genadeloos. Tog was daar geen huiwering nie. Deon ry nog sowat twee kilometer die klofie in totdat die Cruise nie verder kan ry nie. Van daar af: voete.
Ek is glad nie fiks nie. Die klouter oor rotse, los sand en rivierklippe, met die Namibiese son wat ongenaakbaar op jou brand, is hierdie gryshaar tannie heeltemal onkant gevang. My hart het gevoel of dit by my ore wil uitkom, maar ons het geloop. Later het Deon uitgewerk: omtrent vier kilometer.
En toe gebeur dit.
Die twee voor my draai skielik om. Stilte. Stadig. En daar, net om ’n reuse rots, staan hulle. Ses gentle giants. My moegheid, dors en die hitte het soos mis voor die son verdwyn. Hulle was rustig, besig om water te drink en oor hul lywe te spuit. ’n Kleintjie was ook tussen 'n mamma se bene te siene. En ’n jong rammetjie, duidelik bewus van ons, ore wyd, slurp in die lug.

Ons hou hulle ’n rukkie dop met kameras wat klik die enigste onnatuurlike geluid in die bos, toe Deon beduie dis tyd om terug te beweeg. Op pad terug waarsku hy dat hy nie seker is watter roete die trop gaan volg nie. Hul mag dalk verder die klofie in of omdraai en terugkom.
Ek het vinnig om my gekyk en gewonder waarheen ek sou vlug as hulle besluit om terug te kom. Glo my, daardie randjies sou ek soos ’n klipspringer uitgeklim het.

Terug by die voertuig was die gesprekke vol opwinding en en die verskillende emosies wat ek ervaar het, onbeskryflik. Selfs Deon het erken: in al die jare wat hy mense gaan wys het waar die woestynolifante is, was dit die eerste keer dat hy dit te voet moes doen. ’n Een-in-’n-miljoen ervaring.
En toe dink ek: Dit was alles net vir my!
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.
🔴You might also like to read:




Comments ()