Lewe deur ’n kameralens: Barberton fotografieklub is sinoniem met passie en pret

Wat hierdie klub besonders maak, is dat hulle weet hoe om pret te hê - en almal is welkom, jonk en oud, en kinders is ook deel van die groep.

Lewe deur ’n kameralens: Barberton fotografieklub is sinoniem met passie en pret

In ‘n wêreld waar ‘n enkele foto ’n duisend woorde kan vertel, skep Barberton se fotografieklub al meer as ’n dekade reeds ‘n ruimte vir kreatiwiteit, kamera-kennis, en kameraadskap.

Wat in 2010 as ‘n beskeie samekoms van ‘n handjievol fotografie-entoesiaste begin het, het gegroei tot ’n aktiewe klub met ’n hart vir leersame ervarings én lekker lag. Op 23 Julie van daardie jaar het die eerste klubvergadering plaasgevind onder leiding van Jonathan Irons, Herman Bosua en Kobus Hugo. Destyds was belangstelling nog yl, maar die saadjie vir ’n sterk gemeenskapsprojek is gesaai.

PSSA-registrasie twee jaar later het groot voordele meegebring. Lede kon hul werk nou ook instuur vir streeks- en nasionale kompetisies en daar was nou duidelike riglyne oor hoe om daai wenfoto te neem. Ledegetalle het gewissel en op ‘n stadium het die klub 18 geregistreerde lede gehad, insluitend twee professionele fotograwe, Neil Guthrie en Stephen Allen. Volgens Herman Bosua het hierdie joernalis (Lynette Spencer), destyds redakteur van die Barberton Times, as lid waardevolle insae gelewer oor joernalistieke fotografie.

Tydens 'n verskeidenheid praktiese sessies word waardevolle fotografiekennis uitgetoets. Digitaal aangepas: iOlogue Media.
Die klub vergader tans een keer per maand, op die derde Dinsdag, by Gateway Christian School vanaf 17:30 tot ongeveer 19:30. Vergaderings is informeel en bestaan gewoonlik uit twee dele. Eerstens word algemene sake afgehandel, van die beplanning van uitstappies en tema-idees en algemene inligting wat vanaf PSSA kom, en dan fokus die aand op die foto’s wat lede vir beoordeling ingestuur het.

Deur Photovault kan lede elke maand in vyf verskillende kategorieë inskryf: natuur en oop-kategorieë vir kleurfoto’s, asook natuur in swart-en-wit en ‘n ope afdeling, en dan ’n spesiale temakategorie. Hierdie temas is kreatief en dikwels pret, van “die kleur blou” tot “voertuie” en “water”, om maar ‘n paar voorbeelde te noem.

Gedurende praktiese aandsessies word fotografietegnieke toegepas. Digitaal aangepas: iOlogue Media.

Elke maand se beoordeling word deur ‘n buite-fotograaf gedoen. Dit vind aanlyn plaas, óf die beoordelaar woon die vergadering by. Die bespreking en insae wat gedeel word, is van onskatbare waarde. Beoordelaars wys uit wat werk en wat nie, hoe om lig te benut, en hoe ‘n ander perspektief dalk ’n sterker beeld kan skep. Klublede gee ook onderling terugvoering, altyd opbouend met die oog om te help. “Geen foto word afgetakel nie,” het Herman gesê. “Elke fotograaf ontwikkel hulle eie voorkeure en styl en dit moet altyd in ag geneem word.”

Uitstappie op die Bulembo-pad saam met klublede wat soos familie voel. Digitaal aangepas: iOlogue Media.
Aandstraatfotografie wys Barberton in 'n ander lig. Digitaal aangepas: iOlogue Media.

Fotografie is immers persoonlik en verskil. Party verkies abstrakte foto’s, ander geniet dit om die natuur af te neem. Party het die kuns vervolmaak om voëls af te neem en dan is daar die wat hou van portretfotografie. “Die belangrikste is dat almal by mekaar leer en dan self waag om nuwe genres uit te probeer,” het Herman gesê.

Benewens die maandelikse vergaderings bied die klub ook praktiese opleidingsessies aan oor temas soos straatfotografie, portrette, makrofotografie en selfs hoe om die maan af te neem. Ná elke sessie bespreek lede hul foto's, leer uit mekaar se werk en werk dan aan hulle eie tegnieke. As iemand sukkel met toerusting, word dit saamgebring na die vergadering, en die lede help om saam die oplossing te kry.

Die klub hou gereeld ook uitstappies na uitstallings of lugvertonings, sportwedstryde vir aksiefoto’s tot selfs besoeke aan die spookdorp Msauli of Eurekastad se murasies.

Wat hierdie klub besonders maak, is dat hulle ook weet hoe om pret te hê. Van temapartytjies soos Gatsby-aande en swart-en-wit feesvierings, tot lag-en-leer-aande oor snaakse foto’s, die klub is een groot familie. Almal is welkom, jonk en oud, en kinders is ook deel van die groep.

’n Jaarlikse fooi help om versnaperinge en toerusting soos ’n hoëgehalte projektor te befonds. In 2019 kon die klub hul ou projektor vervang met ’n nuwer model, ’n belangrike belegging vir die wys van foto’s in goeie kwaliteit.

Die klub se bestuur vir 2025/26 is pas verkies en bestaan uit Herman Bosua (voorsitter), Amanda Bessenger (sekretaresse en tessourier) en Derik Hattingh (Photovault-verteenwoordiger).

Enigiemand is welkom om ’n vergadering by te woon en te sien wat die klub bied. Dalk steek die vonk vir fotografie ook in jou aan.  “Die grootste uitgangspunt van die klub is om mense te help om hul toerusting te verstaan, en dan om regtig goeie foto’s te neem. Jy leer net as jy oop is vir terugvoer en dit is wat ons klub besonders maak.”

Vir meer inligting kan Herman gekontak word.

WhatsApp ons gerus hier indien jy meer te wete wil kom.