Groot opgewondenheid oor eie webblad vir Barberton gemeenskap
Geen moord en doodslag, geen politiek of godsdienstwiste nie. Dis ‘n gemeenskapskoerant, vir die mense van Barberton, oor die mense van Barberton.

Barbertonners, vandag skryf ek vir julle in my moedertaal, want daar is geen manier wat ek myself ordentlik of in “gevleuelde woorde” sal kan uitdruk in Engels nie.
Kyk, vir ‘n stoere Laevelder wat in Nelspruit grootgeword het, en NHS my alma mater kan noem, was ‘n busrit oor die berge Barberton toe vir hokkie, atletiek of om ons rugbyspan te ondersteun, die enigste kere wat ek in Barberton gekom het. Toe my man in 1990 ‘n onderwyspos hier kry, was ek in ‘n absolute toestand. “Barberton… rêrig?!” My broer het in 1979, toe my ouers hierheen verhuis het, ook gevra: “Barberton? Genade, daar begin die lewe seker eers 4 uur in die middag as jy die TV kan aanskakel.” Dit was nog in die dae toe TV ‘n nuwigheid was en ons net seker tye daarna kon kyk.
En hier sit ons in 2025, en ek is steeds hier. Daai gesegde van, as jy eers Barberton se water gedrink het, kom jy altyd terug, is verseker waar. Hierdie dorp kruip in jou hart in, maak nes en weier om weer uit te trek.
Dis met groot opgewondenheid wat ek gister gaan kyk het hoe De Kaap Echo se webblad lyk. Dit was aanvanklik Anchen se droom, en al was ek in die begin skepties, was dit die afgelope paar maande vir my heerlik om net weer te kon skryf oor dinge wat vir my na aan die hart lê: Die Barberton-gemeenskap en sy goue geskiedenis.
‘n Groot dankie aan Anchen wat die stuurstang stewig vashou. Jy is ‘n vuurvreter van formaat en ons span salueer jou. En natuurlik ook aan Chris Coetzee wat vanuit Australië, ja, van die anderkant van die wêreld, die webblad behartig het, probleme uitgesorteer het en ons vrae keer op keer geduldig beantwoord het. Sonder jou sou ons nie “lewendig” gegaan het nie. Jy is die ware towerkunstenaar agter die skerms en verdien beslis erkenning.
Daar is nog baie om aan te skaaf en te verander soos wat ons mettertyd sal agterkom, maar ons is nou hier, en dis ‘n geval van: “Swem, Sannie, swem. Sink is nie ‘n opsie nie!”
Die artikels sal steeds op Facebook én op ons webblad verskyn. Ons het reeds ‘n hele klomp stories gepubliseer, en die persoonlike terugvoer was ongelooflik. ‘n Versoek van my kant af: Laat weet ons asb wat julle dink. Lewer kommentaar op ons Facebook-blad (los asseblief 'n boodskap onder die review-afdeling ook) en op die webblad self. Registreer gerus en gesels saam.
As ek weet wat julle wil lees, of wat aangaan en gebeur in ons dorp, kan ek opvolg. Hierdie blad sal mense ver en wyd bereik, en hopelik kan dit weer meer toeriste en belangstelling na Barberton bring. Ons het ‘n storie om te vertel, en dis tyd dat almal dit hoor.
Ek wil, soos Anchen tereg gesê het, net positiewe nuus en gebeure plaas. Geen moord en doodslag, geen politiek of godsdienstwiste nie. Dis ‘n gemeenskapskoerant, vir die mense van Barberton, oor die mense van Barberton.
Welkom ook aan Christien Visagie wat by ons formidabele span aangesluit het as media-verteenwoordiger. Sy gaan van volgende week besighede besoek en julle alles vertel van die bekostigbare advertensie en subskripsies wat beskikbaar is. Onthou, ons is steeds ‘n besigheid en moet êrens fondse in, om onkostes te dek.
Ek stem volkome saam met Anchen: “My beker loop oor.” En dalk - net dalk - loop julle sin nou ook oor.
De Kaap Echo se toekoms lê in die hande van die Barberton gemeenskap. Maak dit julle eiendom en vat saam met my hande om dit ‘n groot sukses te maak. As ons dan nie meer ons nuus in die plaaslike koerante kan kry nie, is hierdie die platform waarop dit gedoen kan word.
Tot volgende keer, mooi loop.
𝓛𝔂𝓷𝓮𝓽𝓽𝓮.

Comments ()