Drie Barberton boere deur na finaal van “Moer ’n Boer”
Drie boere uit Barberton, Gerrit en Kabous Engelbrecht en Denys Snyman het deurgedring na die finaal van Moer 'n Boer.

Die gewilde kykNET-reeks Moer ’n Boer het teruggekeer met sy tweede seisoen, en dié keer is daar rede vir inwoners van die Barberton-omgewing om voor die televisie vasgenael te sit. Drie boere uit Barberton, Gerrit en Kabous Engelbrecht en Denys Snyman het deurgedring na die uitdunrondtes en is reg om hul staal te wys in die finaal.
Die realiteitsreeks, wat op Saterdag 26 Julie 2025 afgeskop het, plaas Suid-Afrikaanse boere, die meeste sonder enige vorige ervaring in gemengde vegkuns, in ’n intensiewe opleidingsprogram. Onder die wakende oog van UFC-vegter Cameron Saaiman leer die boere die basiese tegnieke van MMA, waarna hulle mekaar in die kryt aandurf. Die gewilde Janneman van den Berg is die aanbieder, en die finale geveg, wat in Pretoria se Heartfelt Arena plaasvind, word aangebied deur niemand minder as Ricus “Radio Raps” de Beer nie.
In totaal het 28 boere van regoor die land hul plek op die program verwerf uit ’n aanvanklike inskrywingsveld van sowat 80. Buiten die fisiese uitdaging, toets die program ook deursettingsvermoë, spanwerk, en natuurlik daardie unieke boere-humor wat Suid-Afrikaanse kykers so na aan die hart lê.

Die vraag op almal se lippe is hoe het ons drie Barberton manne in Moer ‘n Boer beland? Na ‘n lekker gesels met al drie van hulle blyk dit dat Kabous die groot instigator was. Hy en Gerrit het die eerste reeks gevolg en het die finaal bygewoon in Gauteng en volgens Kabous redelik naby die kryt gesit. “Daai adrenalien en gevoel daar teenaan die kryt was die deurslaggewende faktor. Ons was natuurlik ook vol “brannas” en het daar en dan besluit as daar ‘n tweede seisoen is, gaan ons beslis inskryf,” het Kabous glimlaggend gesê.


Beide broers is gebore en getoë Barbertonners en het op die plaas net buite Barberton grootgeword. Hul het hul skoolloopbane op Nelspruit voltooi waarna Gerrit, wat die oudste is, siviele ingenieurswese gaan studeer het by die Universiteit van Pretoria. Na Covid het hy teruggetrek plaas toe en sy pa en Kabous, wat toe reeds saam sy pa geboer het, kom help. Hulle boer met macadamias, suurlemoene en nartjies. Die twee het ook hul eie verpakkingsmaatskappy en is eienaars van Roots Slaghuis op Barberton.


Kabous het ook sy skoolloopbaan in Nelspruit voltooi en is Elsenburg Landboukollege toe in die Weskaap waarna hy terug is plaas toe. Beide het van kleinsaf aan amateurstoei deelgeneem en rugby gespeel. “Ons was buite kinders, TV kyk was nie ‘n opsie nie, en om op ‘n plaas te bly en werk maak jou taai,” het Kabous gesê.

Volgens Denys se vrou Anri, het Kabous haar man behoorlik in ‘n blik gedruk om ook in te skryf. Denys het in Ventersdorp op ‘n plaas groot geword saam met drie susters en ‘n broer. Sy pa het op ‘n klein skaal geboer. Hy voltooi sy skoolloopbaan in Potchefstroom en was ‘n kranige atleet en rugbyspeler. Na matriek is hy na die “Shark Akademie” en het vir die “Sharks” rugby gespeel. Later is hy deur die Pumas opgeraap, maar het ongelukkig ‘n besering opgedoen wat sy droom om professioneel rugby te speel in skerwe laat spat het.

Boerdery was egter in sy bloed en hy begin werk vir sy neef wat met vrugte boer en hom alles geleer het wat hy vandag weet van boerdery. Hy het op ‘n paar plase in die Laeveld en Mosambiek gewerk voor hy die posisie as bestuurder in Barberton gekry het. Huidiglik bestuur hy drie plase wat aan Australianers behoort en boer hoofsaaklik ook met macadamias.
Die drie boere se eggenotes, Monique, Roeléne en Anri staan bankvas agter hulle ‘boere’ manne. “Die manne werk heeldag op die plaas en moet dan nog ‘n oefenprogram volg en gereed maak vir hul kragmetings. Dit is opoffering van ons vroue se kant, maar ons doen dit met liefde,” het Kabous se vrou Roeléne gesê en laggend bygevoeg, “as September eers verby is gaan Kabous voltyds na Gerbrandt kyk sodat ek kan rus!”
Anri en Denys sien ook met groot verwagting uit na die koms van hulle eersteling in Oktober, ‘n seuntjie. Natuurlik sal hy ook Denys gedoop word en eendag die stories hoor van sy pa se Moer ‘n Boer manewales.
Vir nou kan plaaslike ondersteuners elke Saterdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) inskakel om te sien hoe ons boere nie net agter ’n trekker kan presteer nie, maar ook in die vierkantige kryt. Heruitsendings is ook op VIA (DStv-kanaal 147) beskikbaar vir dié wat die aksie wil inhaal.
Barberton kan met reg trots wees op ons drie BOERE!
As jy meer wil weet, gaan loer na Moer 'n Boer se Facebook-blad of besoek hul webtuiste hier.

Comments ()