Christelle Strauss se reis van visie, volharding en oorwinning
Barberton is bevoorreg dat iemand soos Christelle Strauss hier wortel geskiet het. In haar werk, stryd teen kanker, gemeenskapsdiens en liefde vir familie, lê daar ’n krag wat nie aangeleer kan word nie.

Barberton is ryk aan mense wat nie net bydra tot ons gemeenskap nie, maar deur hul vasberadenheid en medemenslikheid ‘n groot rol speel in baie se lewens. Een so ’n dinamiese vrou is Christelle Strauss, ’n sakevrou, gemeenskapsleier en borskanker-oorwinnaar wie se lewenspad haar uiteindelik na ons mooie dorpie gebring het.
Christelle is gebore in Boksburg waar sy ook gematrikuleer het. “Ek is die laatlam van vyf kinders en almal het my as die jongste vreeslik bederf,” het sy vertel. Na matriek het sy 'n graad as maatskaplike werker verwerf en vir die CMR begin werk. Sy was vir 13 jaar in Boksburg en Benoni werksaam. Gedurende hierdie tyd het sy egter besef dat sy ‘n passie het vir syfers en besluit om ‘n nuwe rigting in te slaan. Sy het via UNISA deeltyds verder studeer en haar as rekenmeester bekwaam.
In 2004 is Christelle Strauss Development and Management (Pty) Ltd gestig. Dit het gebeur as gevolg van ‘n vriend wat na 'n vergadering by ERPM myn haar genader het om na ‘n ontwikkeling in Barberton te kom kyk. “Ek was op daardie stadium verveeld met dit wat ek gedoen het en so het ek toe in Barberton beland.”
Sy het egter dadelik besef dat die projek te groot is vir haar om alleen aan te pak en het Kobus van den Berg ingetrek om as haar vennoot saam die ontwikkeling te doen. Sy het Kobus se konstruksie maatskappy in Benoni se boeke gedoen en het so tussen die lyne gelees dat hy beplan om vroeg op pensioen te gaan. “Ek het hom Barberton toe ontvoer, sodat hy my kon help om hierdie onbekende terrein te betree. Kobus is sy hele lewe lank in die konstruksie en is 'n geweldige groot aanwins vir die besigheid.”
Monte Vista is gebore en dié is vandag ’n bekende en gevestigde woongebied in Barberton. Tot op hede is daar 239 erwe ontwikkel, volledige dienste geïnstalleer, en baie van die bouwerk deur haar seun Dewald hanteer, wat saam met sy gesin Barberton toe getrek het en nou deel vorm van die familieonderneming. Haar dogter, Marlene, is ’n prokureur in Hermanus en hanteer al die regswerk en registrasies vir die besigheid.

Die pad was nie altyd maklik nie. Kort nadat die ontwikkeling begin het, is Christelle met borskanker gediagnoseer. “Ek het aanvanklik vir niemand gesê nie, maar toe ek ‘n mastektomie moes ondergaan en met chemo begin, moes ek my mense vertel.” Haar stryd het egter nie haar gees gebreek nie. “Ek is in die hospitaal deur vrywilligers van KANSA ondersteun en het daar en dan besluit om ook as vrywilliger by hulle aan te sluit.”

Monte Vista Fase 1, wat bestaan uit Montanaro, Makonjwa View en Bellevue, was binne ses maande uitverkoop. “Die ekonomiese insinking van 2009 het egter verdere ontwikkeling gekortwiek en fase 2 het vier jaar geneem om af te handel.” Daar was heelwat terugslae. Kabeldiefstal, grondeise, en erwe wat verkeerd geregistreer is. Ten spyte hiervan het sy en Kobus aanhou ontwikkel en bou. “Ek het groot gedroom, en dit het gerealiseer,” het Christelle trots gesê.
Die besigheid is nou 21 jaar oud en Christelle is dankbaar vir elke kliënt en ondersteuner wat saam met hulle gegroei het. “Ek moes R2.8 miljoen leen toe ons begin het en het met die kankerdiagnose nie tyd gehad om eers daaroor te dink nie. Dié geld moes omgesit word in paaie, water, elektrisiteit, en stormwater dreieneringspype.”


Christelle is vandag steeds betrokke by KANSA in Barberton en dien ook al jare as voorsitter. “Ons hou aan stoei, al is dit moeilik om vrywilligers te werf. Ons doen projekte soos Pink Trees for Pauline, Shavathon en Relay for Life saam met Mbombela.” Christelle was ook in 2019 aangewys as KANSA se Global Hero of Hope.
Die eerste video wat gemaak is deur Africa InTouch News (iOlogue Media): 21 Augustus 2016.


Op Barberton se KANSA-lys is 32 pasiënte wat gereeld Goodie Bags ontvang. Alles word geborg en met liefde saamgestel deur die gemeenskap. Sakke word gemaak deur vrywilligers, materiaal geborg deur die 'Help My Krap' winkel, en inhoud soos handeroom, sokkies, kombersies (gawes van die VLU), seep en selfs inspirerende CD’s word ingesluit.

Vandag is Dewald besig om geleidelik die besigheid oor te neem, terwyl Kobus steeds voluit op die terreine werk en Christelle self gereeld terreine besoek. “Ek glo dat daar ‘n sterk band tussen bestuur en die werkers moet wees.”
Christelle straal wanneer sy oor haar kleinkinders praat. Daniëlla, ’n dansende ster met ses onderskeidings in matriek, studeer tans Forensiese Ouditkunde aan die PUK. Diehahn, haar graad 10 kleinseun is in Gateway Christian School en blink uit in sport en wil regte studeer net soos sy tannie. “Ek is so trots op my kinders en my kleinkinders. Hulle is my hele lewe.”

Christelle droom van ’n nalatenskap wat sal voortgaan. “Ek wil hê ons naam moet behoue bly in die dorp. Ek weet Dewald sal op ons sukses voortbou, en ek sal altyd daar wees om hom te ondersteun.”
In haar werk, haar stryd teen kanker, haar gemeenskapsdiens en haar liefde vir haar familie lê daar ’n krag wat nie aangeleer kan word nie, dit is iets waarmee jy gebore word - en Barberton is bevoorreg dat sy hier wortel geskiet het.

Comments ()