Barberton se kleurvolle kunsskat, die inspirasieverhaal van ’n besondere vrou

Deur haar lewe en werk het sy ‘n ongelooflike nalatenskap van kreatiwiteit, toewyding en inspirasie geskep. Thea is kuns, in lewende lywe, in Barberton.

Barberton se kleurvolle kunsskat, die inspirasieverhaal van ’n besondere vrou
Thea Lemmer se passie was nog altyd om kuns toeganklik te maak vir almal.Lees die vrywaringsklousule oor foto's hier.
In die hart van Barberton se gemeenskap woon daar ‘n vrou wie se lewe en werk reeds vir dekades kleur, tekstuur en inspirasie bring, nie net op doeke en mure nie, maar ook in die harte van jonk en oud. Thea Lemmer is nie net ‘n kunstenaar nie, maar ‘n mentor, ‘n onderwyser en ‘n onuitputlike bron van kreatiewe energie. Hierdie artikel eer die pad en passie van een van Barberton se uitnemende kunstenaars.

Thea is gebore op 11 Julie 1957, en was die oudste van vyf kinders, twee susters en drie broers. Haar lewensreis het in Pretoria begin en later het die gesin na Lichtenburg verhuis, waar sy haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Lichtenburg voltooi het. Sy beskryf daardie jare as haar lekkerste skooljare, iets wat net versterk is deur die diep band wat sy met haar kunsjuffrou gehad het. Die band was só sterk dat hulle mekaar ná 50 jaar tydens hul matriekreünie weer met groot emosie kon groet.

Muurbehangsels wat in die NG kerk hang (bo) en kunsuitstalling van haar leerlinge se werk (onder).

Haar lewensmaat, Pieter, was reeds in haar skooldae deel van haar wêreld. Hulle het in matriek begin uitgaan en is nou al 45 jaar getroud. Hulle seuns, Tian en Richardt, het elk hul eie families.  Tian en Maryke woon tans in Hong Kong, terwyl Richardt en Janri in Nelspruit woon met haar twee kleinkinders, haar trots en vreugde. Die gesin woon al sedert 1982 in Barberton.

Thea het vanaf drie-jarige ouderdom begin teken. Sy wou ‘n suiwer kuns graad na skool verwerf maar haar pa, wat ‘n inspekteur in die Department van Onderwyser was, het dit duidelik gestel dat sy ‘n onderwyseres moet word. Die uiteinde was dat sy toe ‘n BA Ed in Kuns aan die Universiteit van Pretoria voltooi het. “My pa was reg, aangesien ek in my lewe meer onderrig gegee het as enige iets anders.” Sy wysheid het haar loopbaan gevorm en dit is iets waaroor sy in later jare baie dankbaar was.

Marili Heunis; Sias Boshoff; en Christiaan Boshoff. Lees die vrywaringsklousule oor foto's hier.

In 1987 het sy begin om privaat kunsklasse aan te bied, iets wat sy vir die afgelope 37 jaar sonder onderbreking (behalwe tydens Covid) doen. Selfs tydens ‘n ses jaar lange aflospos by Laerskool Barberton, het sy drie middae per week kunsklas bly gee.

In die goeie jare het Thea gemiddeld 80 studente per week gehad, insluitend kleuterskole waar sy weekliks lesse aangebied het. Tydens Julie-vakansies het sy groot werksessies in die Coronation-rugbysaal aangebied met ongeveer 70 kinders op ‘n slag. Volwassenes van so ver as Malelane, Badplaas en Nelspruit het ook haar klasse bygewoon. “Dit was in my jong dae, toe ek nog baie energie en geduld gehad het.”

Deur haar loopbaan het sy menige uitstallings saam met haar studente gehou, dikwels in samewerking met die Kankervereniging (CANSA). In die vroeë 90’s het sy jaarliks haar studente se werk vir die gesogte Santam Kunskalender ingeskryf. ‘n Hoogtepunt was toe een van haar studente se kunswerk een jaar gekies is vir die kalender. Sy was ook ‘n Eisteddfod-beoordelaar en het opleidingskursusse vir onderwysers aangebied om hul leerders vir deelname voor te berei.

Haar passie was nog altyd om kuns toeganklik te maak vir almal. Sy het deur die Laeveld gereis, onder andere na Malelane, Witrivier en Nelspruit om kursusse aan te bied vir die VLU, Rotariërs en Tafelaars. Een van haar groter uitdagings was om op 64-jarige ouderdom 120 leerders van Christenskole tydens ‘n konferensie aan kuns bloot te stel. Sommige privaatskole bring steeds hul leerders na haar Elhanan Ateljee vir kursusse.

Sy het ook in die vroeë 90’s groot uitstallings in die stadsaal, BIAS-gebou en munisipale biblioteek gehou, en reuse muurskilderye saam met kinders op biblioteekmure gedoen. Sy het ook haar kreatiwiteit na die NG Kerk gebring met muurbehangsels, kanselklede, houtkruise, en groot agtergronde vir koordanse.

Hoewel sy ook opdragwerke skilder, is haar tyd beperk deur haar onderrigverpligtinge. Deesdae woon sy op ‘n wildslandgoed net buite Barberton en fokus hoofsaaklik op tuisonderrigleerders. Die klasgrootte het van 80 tot 12 afgeneem, maar dié kleiner groep inspireer haar opnuut. Een student, Venita de Wet, is al meer as 25 jaar by haar.

Sy werk in alle mediums en glo vas dat kuns ‘n ontsnappingswêreld is wat vir almal oop behoort te wees. “Ek glo dat dit moontlik is om jou kuns, in enige medium, en kennis met almal te deel.” Benewens skilderkuns het sy ook vir baie jare laslappiewerk en tema-koekversiering gedoen.

Thea hou ook tred in deesdae se digitale wêreld en die afgelope twee jaar neem sy gereeld deel aan Facebook uitdagings waar kunstenaars elke dag ‘n kunswerk elektronies moet pos. “Tans is ek besig met Create 100 portraits in 100 days. Dis nogals harde werk en toewyding, maar dit hou my kunspotlood skerp.” Belangstellendes kan gaan kyk na haar Facebook blad.

Deur haar lewe en werk het sy ‘n ongelooflike nalatenskap van kreatiwiteit, toewyding en inspirasie geskep. Sy is nie net ‘n kunstenaar nie. Sy ís kuns, in lewende lywe, in Barberton.
WhatsApp ons gerus hier indien jy meer te wete wil kom.