Barberton Rugbyklub bring lapa-aande terug

Barberton Rugbyklub het die dorp se ou tradisie van saamkuier en potjiekos weer laat herleef met hul Lapa-aand.

Barberton Rugbyklub bring lapa-aande terug
Die dag was gevul met baie pret en boeresport wat onder luide gejuig en aanmoediging plaasgevind het. Foto's voorsien deur die Rugbyklub.
WhatsApp Anchen of epos Lynette indien jy meer te hore wil kom.

Met die geur van potjiekos in die lug en vrolike gelag wat oor die rugbyveld weergalm het, het Barberton Rugbyklub onlangs die gees van ‘n ou Barberton-tradisie laat herleef met hul lapa-aand. Dit was ‘n dag gevul met boeresport, saamkuier en natuurlik heerlike kos.

Die geleentheid is op Saterdag, 1 November by die rugbyklub gehou, en volgens klub voorsitter Mark Pretorius was dit alles deel van die klub se groter visie om die gemeenskap weer saam te bring. “Ons as komitee van die rugbyklub wil graag sulke geleenthede aanbied om mense in die dorp weer bietjie betrokke te kry by gemeenskapsaangeleenthede,” het Mark gesê.

Walter Schröder van die Hillbilly span. (Regs) Johan Raath en Pieter Potgieter het namens die rugbyklub die wentrofeë ontvang. Foto's voorsien deur die Rugbyklub.
“Ons doel is om die gemeenskap saam te trek soos wat ek kan onthou ons ouers in vroeëre jare gedoen het. Die plan is om dit elke jaar groter en beter te maak.”

Verskeie plaaslike spanne het ingeskryf vir die potjiekoskompetisie, elk met hul eie tema en lapa-versierings. Spanne het bestaan uit plaaslike besighede, klubs en vriende, wat almal gesorg het vir hope gees en kreatiwiteit.

Deelnemende spanne was: Barberton Agri Boerevereniging, Barberton Rugbyklub, Hi-Tech Barberton, NTT Barberton, MOTHs, Africa Tyres Barberton, Roots Barberton, Buco Barberton, Barberton Engineering, en ’n groep vriende wat hulself die Hilbillys genoem het. ’n Paneel beoordelaars het die spanne se potjiekos, tema en gees beoordeel, en aan die einde van die aand is die wenners aangekondig.

Christiaan Dednam en Neil de Wit. (Regs) Die potjiekos-beoordelaars Sarel du Toit en Louis Koen het verseker nie ‘n maklike taak gehad nie. Foto's voorsien deur die Rugbyklub.

Die potjiekoswenners was: Barberton Rugbyklub, Hi-Tech Barberton en Africa Tyres Barberton. Pretorius sê die klub is trots op die sukses van die dag en hoop om die volgende jaar nog meer spanne te lok. “Dit is nou die tweede jaar wat ons dit aanbied, en die plan is om in 2026, 20 spanne te hê,” het hy gesê. “Ons wil hê dit moet iets wees waarna die hele Barberton elke jaar uitsien.”

Die span van Africa Tyres is Dean Walstrand, Kabous Engelbrecht, Anna Joubert, en Annecke en Eugene Schäfer. (Regs) NTT Toyota se span met Christiaan Dednam, Melanie Shröder, Andries van Staden en Jayden van den Berg. Foto's voorsien deur die Rugbyklub.

Die idee van ’n lapa-aand is nie vreemd vir die Barberton gemeenskap nie. Jare gelede was die dorp bekend vir sy Wildsbraai Lapa-aande, aanvanklik georganiseer deur Laerskool Barberton, waar spanne ook lapas moes bou en wildsgeregte voorberei het vir hul gaste. Toe die skool later die leisels moes neerlê, het die Gereformeerde Kerk Barberton die tradisie oorgeneem, en die aande is met groot sukses by Jannie en Heidi Visser se plaas in hul skuur aangebied. Hierdie geliefde tradisie het vir verskeie jare voortgeduur voordat dit tot stilstand gekom het.

Die span van die Hillbillys is Melani en Walter Shröder, Neil en Stephany de Wit, Caromie, Mark, Beau en Zahra Pretorius, en Christiaan en Saskia Dednam. (Regs) Die span van die MOTH klub is Marie en André Olivier, Koos Jonker, Clarence en Glenda Hobbs en Willie en Debbie Engelbrecht. Foto's voorsien deur die Rugbyklub.
Nou, danksy die Barberton Rugbyklub, is daar nuwe lewe in hierdie ou gemeenskapsgees geblaas. “Ons wil hê die dorp moet weer saamkuier soos vroeër,” sê Mark. “By die klub gaan dit nie net oor rugby nie, dit gaan oor die mense, vriendskap en die Barberton-gees.”
Boeresport vir jonk (en oud)! Foto's voorsien deur die Rugbyklub.

Die dag het nie net potjiekos ingesluit nie, maar ook boeresport-aktiwiteite en vrolike vermaak vir oud en jonk. Kinders het gespeel, volwassenes het gekuier, en weer vir ’n slag gevoel soos een groot familie. Met sulke entoesiasme en ’n groeiende getal deelnemers is dit duidelik dat die Barberton Rugbyklub se lapa-aand besig is om ’n vaste jaarlikse hoogtepunt op die dorp se sosiale kalender te word.

Moet dit nie volgende jaar misloop nie!
WhatsApp Anchen of epos Lynette indien jy meer te hore wil kom.