Barberton neem afskeid van geliefde gemeenskapslid, Brenda Potgieter
“Brenda was altyd bereid om ’n hand te gee, of dit nou by die skool, kerk of sportveld was.”
Barberton rou saam oor die afsterwe van Brenda Potgieter, ’n geliefde inwoner wat vir meer as vyf dekades ’n verskil in die gemeenskap gemaak het. Sy is op 8 Maart 1953 in Hendrina gebore en het later haar skoolopleiding in Barberton voltooi, waar sy die afgelope 58 jaar gewoon het.
Brenda het haar man, Johan Potgieter, ’n oudonderwyser van beide Laer- en Hoërskool in Barberton ook hier ontmoet en hulle het twee seuns, Pieter (Pottie) en Johan, grootgemaak. Die twee was Brenda se trots. Pottie bly steeds in Barberton en haar jongste, Johan in Nieu-Seeland.
Haar betrokkenheid by die gemeenskap het diep spore gelaat. Brenda was vir baie jare betrokke by Kleutervriend Kleuterskool, waar sy kleutersorg met liefde en toewyding verrig het. Sy het ook diens gelewer in die meisieskoshuis van Hoërskool Barberton (voor dit toegemaak is), die skool se snoepwinkel bestuur, en was betrokke by verskeie aktiwiteite van die Barberton Rugbyklub, insluitend die hantering van hekfooie tydens wedstryde.
“Brenda was altyd bereid om ’n hand te gee, of dit nou by die skool, kerk of sportveld was,” het vriende gesê. “Sy het elke kind behandel as haar eie en haar glimlag was ’n vaste baken van warmte in ons gemeenskap.”
Behalwe haar twee seuns laat sy ook twee kleinkinders agter.
’n Roudiens ter viering van haar lewe sal gehou word op Donderdag, 5 Junie om 10:00 by die Volle Evangelie Kerk in Barberton, skuins oorkant die Biblioteek. Enigiemand wat wil bywoon of meer wil uitvind, kan Pottie kontak by 082 560 9535.

Comments ()