As intelligensie en veelsydigheid ooit ’n dogter gehad het, was haar naam Marlies Liebenberg

Marlies se liefde vir haar gemeenskap, haar passie vir geskiedenis en diere, en haar onwrikbare toewyding en diens aan ander maak haar ’n ware Barberton-ikoon.

As intelligensie en veelsydigheid ooit ’n dogter gehad het, was haar naam Marlies Liebenberg
Marlies Liebenberg met haar kenmerkende ondeunde, laggende oë. Foto: Anchen Coetzee. Regs gesels sy met die koekoek wat sy in die inligtingskantoor groot gemaak het.
In die hart van Barberton se geskiedenis en gemeenskapslewe staan ’n vrou wie se lewensverhaal oor kontinente, dekades en roepings strek. Marlies Liebenberg, gebore op ’n yskoue winternag op 17 Desember 1949 in Dordrecht, Nederland, is dekades reeds ’n bekende en geliefde inwoner van die De Kaap Vallei.

Marlies is die dogter van Rienie van Dongen (vandag nog sterk en onafhanklik en byna 105 jaar oud) en Henk, ’n siviele ingenieur. Haar eerste lewensjare het die gesin in ’n woonark gebly wat van hawe na hawe beweeg het, waar haar pa, Henk, die skade moes herstel wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangerig is. “Ek het leer swem met ‘n tou om my middellyf uit die ark se venster uit,” vertel sy met ‘n glimlag.

Die woonark 'Joan' waarop Marlies haar jong dae deurgebring het en (regs) saam met sus Linda tydens hul ontmoeting met Sinterklaas en Zwarte Piet.

Gedurende haar kinderjare het sy saam met haar ouers en suster, Linda, die wêreld deurreis: van Nederland na die Kongo, toe die destydse Nyassaland, later Rhodesië, en uiteindelik Suid-Afrika. Hier het hulle behoorlik rondgetrek en op ‘n stadium ook Australië toe gegaan toe haar pa ‘n tak daar gaan oopmaak het.

“Die outback was ‘n besonderse ervaring, maar na twee jaar tussen die brumbies en wallabies trek my ouers terug Nederland toe, ‘n ses weke bootreis.”  Hulle was slegs twee jaar in Nederland toe dit weer tyd geword het om op te pak. Die gesin het toe vertrek en na Suid-Afrika teruggekeer - dié keer na Pretoria.

Marlies het uiteindelik haar skoolloopbaan aan Pretoria High School for Girls voltooi. Teen dié tyd het sy reeds 24 skole bygewoon en was sy vyf tale magtig.

Na matriek het sy aan Tukkies gaan studeer, waar sy haar passie vir prehistorie kon uitleef. Sy het haar graad in Argeologie behaal, met Volkekunde en Frans. Tydens haar honneursstudie het sy as assistent in die Argeologie-departement gewerk en was sy ook aktief betrokke by die Suid-Afrikaanse Argeologiese Vereniging.

Hier doen Marlies as UP student afmetings by Mapungubwe. Die foto het verskyn in die boek, Mapungubwe Remembered, deur Sian Tiley-Nel. Regs gesels sy met die koekoek wat sy in die inligtingskantoor groot gemaak het.

Marlies is in 1975 aangestel by die TPA Museumdienste as Opvoedkundige Beampte vir al die provinsiale museums in die voormalige Transvaal. Haar loopbaan het haar uiteindelik na Pelgrimsrus geneem, waar sy ’n sentrale rol gespeel het in die restourasie van hierdie historiese dorpie. Sy het haar werk in die Laeveld so geniet dat sy besluit het om te bly, en sy het aansoek gedoen vir ’n pos by Natuurbewaring in die Krugerwildtuin. Hier het sy onder andere aan die uitstalling in die Stevenson-Hamilton-gebou gewerk en vir dr Tol Pienaar gehelp om inligting vir sy boek Neem uit die Verlede te versamel.

Marlies Liebenberg was die eerste vrou wat in die Natuurbewaringsafdeling ‘n pos gekry het by die Parkeraad.

Haar man, Johann Liebenberg, het Marlies ontmoet toe sy van die Laeveld af ’n skakelbeampte-pos aanvaar het wat deur die stadssekretaris van Potgietersrus (vandag Mokopane) aangebied is. Hier het sy ook die geleentheid gekry om nou saam met die radio en televisie, asook met die toerismevereniging van Noord-Transvaal, te werk.

Links: Marlies saam met 'n Egiptiese reisagent van Waleen Tours tydens 'n Toerisme Indaba en op die meegaande foto is sy heel links. Dit was by die toerisme bemarkingsstalletjie tydens 'n Indaba in Durban.
Marlies saam met wyle Zack du Plessis tydens 'n burgemeestersfunksie en (regs) is sy saam met Derrick Hanekom, destydse Dep Minister van Justisie by die opening van die biblioteek in Emjindini.

In 1982 het Marlies en Johann in die huwelik getree, en hul geliefde twee seuns, Arnaud en Brendon, is uit die huwelik gebore. “Einde 1989 aanvaar Johann die pos van snr Landdros in Barberton, en trek ons na die wonderlike dorp waar ons steeds vandag bly.” Arnaud bly ook tans in Barberton, maar Brendon en sy gesin woon in Australië.

Marlies is onmiddellik ingetrek by die stadsraad, waar sy ’n pos as inligtingsbeampte aangebied is. Die werk was veelsydig en uiters bevredigend. Toerisme is ’n hupstoot gegee deur projekte wat sy van stapel gestuur het, soos onder andere die Victoriaanse Teetuin en Kellerpark. Later is sy bevorder na skakelbeampte en het ’n klomp jong manne in Emjindini gehelp met die stigting van Barberton Community Radio, wat nou al 30 jaar in bedryf is. Ná die demokratiese verkiesing in 1994 het Marlies drie Swazi burgemeesters bygestaan in haar rol as sekretaris van die burgemeester.

Marlies saam met die vroue van die stadsraad en (regs) saam met nog 'n Barberton ystervrou, Christelle Strauss van CANSA.
Hier is Marlies saam met Carol Sanderson van BCR en (regs) saam met Meiston Mnisi en die geliefde 'Juffrou' Ingrid Seipel as beoordelaars by Laerskool Barberton Primary se blommeskou.
Marlies het 13 termyne op die Mpumalanga Provincial Heritage Resources Authority gedien en was ’n vurige kampvegter vir Barberton se erfenis. Verskeie toerismestrategieë is deur haar ontwikkel, sy het ook die Delwersfeeste gehelp organiseer, en Barberton se teenwoordigheid by Toerisme Indabas versterk.

As skakelbeampte het Marlies gereeld onderhoude gevoer en gereël vir joernaliste van koerante en tydskrifte, asook vir filmmakers van binne en buite die land. Een van die hoogtepunte was die besoek van die bekende skrywer Bryce Courtenay, wat saam met ’n Hollywood-filmspan opgedaag het om sogenaamde “establishing shots” vir die rolprent The Power of One te neem.

“Die lekkerste van die werk as skakelbeampte was om besoekersgroepe te begelei deur die dorp en om met wetenskaplikes uit te gaan na plekke van historiese, geologiese en botaniese belang in die ryk en diverse omgewing van Barberton,” het Marlies gesê.

In haar rol as skakel- en ekonomiese ontwikkelingsbeampte het sy op verskeie platforms gedien soos Friends of the Museum, Gerbera Association, Barberton Tourism, Demokratiese Aliansie, Dierebeskermingsvereniging, Umjindi Jewellery Project, BCR, en nog vele meer. Marlies het ook gehelp om werk- en opleidingsgeleenthede vir die Barberton inwoners te skep. Sy het ’n opleidingsentrum opgerig vir houtwerk en spyseniering en jong toergidse opgelei. Haar grootste trots bly egter haar ondersteuning aan plaaslike inwoners met CV’s, besigheidsplanne en mentorskap vir entrepreneurs.

Kathleen Maud Nesbitt (Marlies) het besoekers verwelkom by haar huis, Belhaven, wat in 1904 deur haar man, George Nesbitt, ’n Skotse besigheidsman, gebou is. Dit was tydens Night at the Museum in 2015. Foto's: Anchen Coetzee.

In haar privaat hoedanigheid is talle mense plaaslik bygestaan met vertaalwerk, proeflees, en redigering waar sy as lid van die SA Vertalersinstituut aanvaar was vir dié soort hulpverlening. “Rekenaars was maar beperk in wat dit kon doen en daar was nie internet nie.” 

Ná haar aftrede in 2009 is sy genader om deel te vorm van die konsultantegroep wat die dossier saamgestel het vir die UNESCO-aansoek om die geologie van die Makhonjwaberge as wêrelderfenisterrein te verklaar. In hierdie proses was dit haar taak om die argeologie en geskiedenis vir die voorlegging te dokumenteer. Sy beskou dit as ’n groot eer en voorreg om haar loopbaan op só betekenisvolle wyse te kon afsluit.
As lid van die DBV het sy meer as 13 jaar diens gelewer as sekretaris en prakties gehelp met die versorging van diere. Vandag bestuur sy saam met vriende ’n liefdadigheidswinkel wat fondse insamel vir die DBV se dienste in Umjindi. Sy speel ook ’n belangrike rol in die opsporing van verlore troeteldiere en is steeds aktief betrokke by skole vir bewusmaking oor dierewelsyn.
Links gee Marlies ‘n praatjie by Gateway Christian School. Regs bo is sy saam met DBV bestuurder, Lana Renken, en twee pragtige viervoetige kinders en onder saam met vrywilligers waar hul tydens 'n vlooimark boeke verkoop ten bate van die DBV.
Marlies se liefde vir haar gemeenskap, haar passie vir geskiedenis en diere, en haar lewenslange toewyding aan diens maak haar ’n ware Barberton-ikoon. Sy versorg steeds haar ma, lees ywerig en is al 16 jaar deel van ’n boekklub. Op 75 jaar jonk is sy energiek, betrokke en vasbeslote om steeds ’n verskil te maak.
WhatsApp ons gerus hier indien jy meer te wete wil kom.