Alicia van Luik - van groot verhoë na ’n hoër roeping

Barberton se eie Alicia het die groot verhoog verruil vir ’n hoër roeping.

Alicia van Luik - van groot verhoë na ’n hoër roeping
Anlia, Wayne, Alicia en Liwan van Luik.

Sy het op die verhoog gestaan waar soveel jong sangers net van kon droom. Die ligte het helder geskyn, haar stem het weergalm, en haar liedere is oor die radio’s van Suid-Afrika gespeel. Maar êrens in daardie glans en geroep van sukses, het sy ’n ander stem gehoor, die een wat haar teruggeroep het na haar ware doel.

Alicia van Luik, gebore Opperman, is in Barberton gebore, maar haar kinderjare was ’n reis van dorp tot dorp. “Ek was vier toe ons Virginia toe getrek het, waar ek by Laerskool Merriespruit skool begin het,” vertel sy. “In 2007 was ons in Rustenburg, en in 2008 trek ons terug Barberton toe. Ek het my laaste drie hoërskooljare by Hoërskool Barberton voltooi.”

Met ouers André en Felicia Opperman, en twee susters Liandri Marais en Ane van der Walt, was gesin en musiek van kleins af saam gevleg.

“Ek het begin sing sodra ek kon praat,” lag sy. “My ma het my liedjies geleer en ons het altyd saam gesing in die huis.”

Wat begin het as eenvoudige kinderliedjies, het gou ontwikkel tot ’n merkwaardige talent. In graad 3 het sy vir die eerste keer vir die skoolkoor ‘n oudisie gedoen en van daar af het die wêreld van musiek vir haar oopgegaan.

Gedurende haar skooljare het sy meer as 20 sangkompetisies gewen, die Noordwes- en Mpumalanga Eisteddfod-trofeë huis toe gebring, in skoolrevues en musiekblyspele verskyn, en selfs konserte vir bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars geopen.

Na matriek het sy die kans gekry waarvan soveel jong sangers droom, om voltyds te sing. Sy het in Rustenburg gaan woon, waar sy vir vier jaar professioneel opgetree het. ’n CD met 13 oorspronklike liedjies is opgeneem en bekendgestel by Montecasino, en haar musiek het selfs so ver as die Kaap oor radiostasies weerklink. In 2014 het Universal Music haar ’n kontrak aangebied, die hoogtepunt van haar jong sangloopbaan.

“Alles waarvoor ek van kleins af gedroom het, het waar geword,” vertel sy. “Maar gedurende daardie tyd was ek sielsongelukkig. Ek het baie druk beleef, baie trane gestort, en besef alles in die musiekbedryf is nie altyd maanskyn en rose soos dit van buite lyk nie.”

Sy het begin voel dat haar roeping êrens anders lê. Sy het gebid vir leiding, en net ’n week voor sy Pretoria toe sou gaan om die kontrak te teken, het sy ’n Skrifgedeelte gekry wat haar lewe sou verander – Matteus 16:24: ‘Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?’

“Ek het geweet – die kontrak was nie vir my bedoel nie,” sê sy sag. “Dit was ’n groot en moeilike besluit, maar ek moes kies tussen wêreldse sukses en vrede in my hart. Ek het die kontrak nie geteken nie. Ek het huis toe gekom, terug Barberton toe.”

Vriende en kennisse het gedink sy is mal om ’n goue kans te laat gaan, maar vandag weet Alicia dit was die beste besluit wat sy kon maak. “Die geluk wat ek vandag het, kan nie opmeet teen die sukses wat ek sou gehad het nie. Die Here het my deur alles gedra.”

Sedertdien leef sy haar droom op ’n ander manier, deur sangbediening. Sy sing by vrouekampe, kerke en konferensies regoor die land, waar sy mense lei in lofprysing en aanbidding. “My hart en my passie is om mense deur my sang in die teenwoordigheid van die Here te lei,” sê sy. “Ek wil die liefde van Jesus met almal deel, want dis alles oor Hom.”

Sy is getroud met Wayne van Luik van Witrivier, ’n man wat sy al van haar sestiende jaar af ken. “Ek het vir sewe jaar gebid dat die Here vir my ’n Godvresende man gee en nooit gedink dit sou Wayne wees nie!” lag sy. Hy was destyds die jeugleier by hul kerk, en vandag dien hulle saam in geloof en gesin. Hulle woon in Witrivier saam met hul twee kinders, Anlia (7) en Liwan (5).

Alicia beskryf haar lewe vandag as vol vrede, liefde en vervulling. “Ek is ’n huisvrou, maar my bediening kry steeds baie aandag. Wanneer ek naweke gaan sing, sorg my man of my ma vir die kinders. Ek het ’n wonderlike ondersteuningspan en weet ek is presies waar ek moet wees.”

Haar musiek bly mense raak, soos in haar weergawe van How Great Thou Art, beskikbaar op YouTube, verfilm deur Nico van Earth Digital Productions. En vir diegene wat haar wil hoor, is sy ook deel van die jaarlikse Praise and Hope Music Celebration wat November 28, by Church Unlimited in Nelspruit plaasvind.

“Alles wat ek doen, is om die Here se liefde te wys,” sê sy met ’n glimlag. “Ek wil hê mense moet deur my sang die vrede en blydskap ervaar wat net Hy kan gee. Want dis nie oor my nie, dis alles oor Hom.”
WhatsApp Anchen of epos Lynette indien jy wil weet wat ons vir jou besigheid kan doen.